Inwoners gaan self skoon, mooi maak nadat Brackenfell-forum onlangs toestemming van die Stad gekry het

(Pixabay)


Die Brackenfell-forum het onlangs toestemming van die Stad Kaapstad ontvang om die ingange na onderskeie woonbuurte te verfraai en doen nou ’n beroep op die gemeenskap om deel te word van die inisiatief.

“Landswyd, in verskeie dorpe, het inwoners die inisiatief geneem om hul eie omgewing te verfraai. In sommige gevalle word infrastruktuur selfs opgeknap.

“Met dié projek beoog die forum om ’n positiewe voetspoor in Brackenfell agter te laat,” sê Alta van Zyl, voorsitter van die forum.

“Die wekroep het nou ook opgegaan uit ons eie gemeenskap om eienaarskap te neem en ons omgewing netjies en skoon te maak en in stand te hou. Ons wil almal uitnooi om deel te wees van die projek,” sê sy.

Projek geloof

Marian Nieuwoudt, raadslid vir Wyk 8 en voorsitter van Subraad 2, sê die projek is lofwaardig.

“Die vennootskap tussen die munisipaliteit en die gemeenskappe is die enigste wyse waarop ons daarin gaan slaag om in die huidige uitdagende tyd ’n veilige en voorspoedige gemeenskap te fasiliteer. As ons almal betrokke raak soos wat ons individuele omstandighede dit toelaat, skep ons hoop vir almal rondom ons,” sê Nieuwoudt.

Die eerste van die geleenthede vind plaas in Ferndale op Saterdag 10 Desember om 17:00. Die Brackenfell-forum en die NG kerk Brackenfell-Wes gaan ’n “plant-’n-plantjie”-dag en Kerssang in die park aanbied. “Ons kom by die kerk in Janiestraat bymekaar, waar ons gaan begin om die ingang van Ferndalestraat te verfraai,” sê Van Zyl.

Vetplantjie

“Ons nooi die inwoners uit om ’n vetplantjie en ’n tweeliter-bottel water saam te bring en dan begin ons saam plant. Om 18:00 verskuif die samesyn na Brandsingelpark noord van Frans Conradie- en Ferndalestraat vir ’n aand van Kerssang in die buitelug,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article