Voedselpakkies is aan gesinne in Garies geskenk.


Diepe dankbaarheid en hernude hoop het Saterdag 3 Desember in die harte van Garies se boeregemeenskap posgevat met die aankoms van South African Water Warriors se voertuie met broodnodige hulp.

Die droogte in die Noord-Kaap is steeds nie gebreek nie en boere in die Garies-omgewing gaan steeds swaar gebuk as gevolg van die ver ondergemiddelde reënval wat hulle ontvang en dele van die gebied wat steeds feitlik geen reën op hul plase gehad het nie.

Hartverskeurend

Die nagevolge van so ’n langdurige droogte is hartverskeurend, sê Deon Smit, stigter van SA Water Warriors.

Altesame 13 voertuie het uit Kaapstad gery en was volgelaai met nie-bederfbare kos en groente vir die boeregesinne en werkergesinne van Garies. Daar was 25 000 l gebottelde water, asook ’n vragmotor met lusernbale om die boere vir die feestyd mee te seën.

Altesaam 160 kospakkies is opgemaak; elke vrou het ’n spesiale boksie ontvang. Met Kersfees om die draai, het elke man ’n geskenkpakkie ontvang en is daar spesiaal ook vir elke kind ’n Kersgeskenk volgens hul ouderdom gegee.

Volgens Smit was dit hul laaste uitreik van die jaar en daarom het hulle dit ekstra spesiaal gemaak vir die gemeenskap.

Beplan vir 2023

South African Water Warriors is reeds besig met beplanning van hul eerste uitreik vir 2023, wat vroeg in Maart gaan wees.

Foto’s van Garies se uitreik is op hul Facebook-groep, South African Water Warriors, beskikbaar, asook alle inligting oor die eerste uitreik van 2023. Die publiek wat graag wil betrokke raak, kan die groep op sosiale media gaan volg.

As ’n geregistreerde openbare weldaadsorganisasie (OWO) kan hy ook artikel 18A-sertifikate aan maatskappye uitreik wat skenkings maak.

Smit het ook sy dankbaarheid uitgespreek vir vanjaar se sukses.

“Dankie aan al ons getroue vrywilligers wat saam met ons gery het.

“Dankie aan elke lid van die publiek wat ons getrou ondersteun het deur die jaar. Die lys is te lank en ek wil nie graag uitsonderings maak nie. Ons is dankbaar vir elke maatskappy wat hande gevat het om dit ’n baie geseënde en suksesvolle jaar te maak en dat ons op só ’n hoë noot kon afsluit.”

Bel Deon Sit by 082 738 2702 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article