Photo for illustration (Pixabay)


Inwoners staar ’n stinkende Kersfees in die gesig terwyl daar blykbaar nog geen permanente oplossings is vir die riool-oorloop op ’n besige kruising in Brackenfell nie.

Inwoners sê die riool loop al vir sowat twee maande in die straat af van Paradysstraat tot in Frans Conradie-rylaan.

Die Stad Kaapstad het die rioolpyp in Paradysstraat afgesny om die kop van ’n straalpyp wat in die rioolpyp vasgesteek het op te spoor en te verwyder.

In die berig van 9 November, “Leaking pipe spilling raw sewage ‘for months’ outside school posing a health risk to kids” het die Stad Kaapstad aan TygerBurger verduidelik dat die kop van die straalpyp vasgesteek het teen ’n obstruksie terwyl daar gepoog is om ’n blokkasie in die drein uit te spuit. Gevolglik moes die pyp gesny word terwyl ander benaderings om die pyp se kop terug te kry, ondersoek is,” het Siseko Mbandezi, die Stad se burgemeesterskommiteelid vir water en sanitasie, toe gesê.

Volgens hom sou die Stad op 3 November ’n kamera-inspeksie doen om vas te stel waar die straalpyp se kop vassteek.

“Die meeste werk moet by die besige kruising van Frans Conradie-rylaan gedoen word en kan dus nie bedags gedoen word nie weens verkeer. Enige pogings om die straalpyp se kop terug te kry, sal eers volg nadat die kringtelevisie-inspeksie uitgevoer is en die plek van die obstruksie geïdentifiseer is,” het hy gesê.

’n Ontstoke inwoner, Andries du Preez, sê dit was skaars drie weke nadat die Stad daaraan aandag gegee het en die erge vloei tydelik gestop is dat die riool weer op 8 Desember begin uitspoel het.

“Weens die swak diens wat ons voorheen daar ontvang het, het ek gehuiwer om te aanvaar dat die probleem opgelos is. Die vloei is nog nie weer so erg soos voorheen nie maar loop steeds,“ sê hy.

In antwoord op ’n medianavraag wat TygerBurger reeds op 9 November aan die Stad gestuur het, het Mbandezi Vrydag aan TygerBurger gemeld dat die Stad se sanitasiespan se pogings om die straalpyp se kop uit te haal onsuksesvol was.

“Dit is omdat die span steeds nie kan identifiseer wat die kop van die straalpyp vashou nie. Dus is uitgrawings deur Frans Conradieweg nie moontlik voordat die presiese ligging van die obstruksie geïdentifiseer is nie.

“Verder is die pypleiding langs Paradysstraat vanaf Frans Conradieweg tot by Ou Paarlweg met sand gevul,” sê hy.

Volgens hom het werk weer op Donderdag 8 Desember begin om die sand te verwyder terwyl die instandhoudingspan op 13 Desember nagskof begin werk het om werkers toegang tot die pad te gee tydens buite die spitsverkeer.

“Die Stad werk so vinnig as moontlik om dit op te los,” sê Mbandezi.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article