Kaylin en spanmaats kom derde by die Afrika Spelling Bee-kampioenskap

Kaylin Hufke, gr. 6-leerder aan Laerskool Kalkfontein, en Bayyinah Manjoo, gr. 9-leerder aan Rustenburg Girls High School by die Afrika Spelling Bee in Blantyre, Malawi.

Credit: cr

Kaylin Hufke, ’n gr. 6-leerder aan die Laerskool Kalkfontein, en haar drie spanmaats van Span Suid-Afrika het algeheel derde geëindig in die spankompetisie by die vyfde Afrika Spelling Bee-kampioenskap wat van 6 tot 11 Desember in Blantyre, Malawi, plaasgevind het.

Nigerië het die spankompetisie gewen gevolg deur Uganda.

TygerBurger het voorheen berig toe Kaylin die Growsmart geletterdheidskompetisie gewen het, asook toe die skool iPads en ander toerusting danksy haar prestasie ontvang het.

Growsmart het Kaylin se koste geborg om die Afrika Spelling Bee as lid van die Suid-Afrikaanse span te kon bywoon.

Leerders van 15 Afrika-lande, naamlik Botswana, Ethiopië, Gambië, Ghana, Ivoorkus, Kenia, Malawi, Nigerië, Sierra Leone, Suid-Afrika, Soedan, Suid-Soedan, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe het deelgeneem.

Die Afrika Spelling Bee word aangebied deur die Afrika Spelling Bee-federasie.

Nege lande het aan die eerste kompetisie in 2016 deelgeneem wat in Johannesburg gehou is. Weens die pandemie kon die kompetisie nie in 2020 en 2021 plaasvind nie.

Die kompetisie sal volgende jaar in Addis Abeba, Ethiopië, aangebied word.

Goeie ervaring

Kaylin en Bayinnah Manjoo van Rustenberg Girls High School het die Wes-Kaap verteenwoordig in Span Suid-Afrika.

Die ander twee spanlede was van Limpopo. Bayinnah het al voorheen aan die kompetisie deelgeneem en is tans nasionale spelkampioen.

Kaylin (derde van links) saam met spanmaats en deelnemers van Sudan.

Natalé Buffels, Kaylin se gr. 6-klasonderwyser wat ook haar mentor was in die Growsmart-kompetisie het Kaylin op die reis na Blantyre vergesel.

Dit was Buffels se eerste besoek aan Malawi, maar sy sê daar was heelwat eerstes vir Kaylin.

“Dit was die eerste keer dat sy gevlieg het en ek dink ook die eerste keer dat sy uit Kaapstad was.”

Buiten dat die vlugte so bietjie lank geraak het en die weer nie te lekker was nie, was daar ook ’n bietjie kultuurskok vir die tiener.

“Die kos wat ons daar geëet het was nou nie waaraan ons gewoond is nie, so sy was so bietjie omgekrap daaroor.”

Al was baie dinge anders, het Kaylin tog die ondervinding geniet, vertel Buffels.

“Sy het baie maats gemaak van ander lande – hulle het nou selfs ’n WhatsApp-groepie om met mekaar te kommunikeer.”

Kaylin Hufke en haar Graad 6-klasonderwyser, Natalé Buffels kort voor hul vertrek.

Buffels sê in vergelyking met Suid-Afrika ervaar Malawi ’n heel ander vlak van armoede.

“Dit het ons laat besef ons moet eintlik dankbaar wees. Maar die mense is vriendelik en warm omgee-mense. Hul kla nooit nie. Dit was regtig goed om daar te wees.”

Hulle het daar ook beurtkrag ondervind, vertel sy.

Buffels sê die spel-kompetisie was moeilik.

“’n Kind wat weet hoe hierdie kompetisies werk en ondervinding het sou dit dalk bietjie makliker gevind het as Kaylin, wie se heel eerste deelname dit was. Maar dit was ’n goeie ervaring.”

Die deelnemers het in die Golden Peacock Hotel in Blantyre tuisgegaan waar die kompetisie ook aangebied is.

Buffels sê hulle het geleentheid gekry om die Malawi Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie in Blantyre te besoek waar hulle kon sien hoe hommeltuie gemaak en gevlieg word.

Daar is ook vir hulle ‘n besoek aan die Malawimeer gereël waar Kaylin nog ’n eerste kon beleef toe sy op ‘n Drommedaris-kameel se rug kon klim.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article