’n Toerspan van 15 spelers gaan eersdaags na Amerika toe vir ’n Grid Iron toernooi

Armin van As, Romeo Eksteen en Jandro Conradie.

Credit: SYSTEM

Vir die meeste rugbymal Suid-Afrikaners is Amerikaanse-voetbal ’n volksvreemdheid wat net op flieks gesien word.

Maar nou het dié opwindende sport vlamgevat in Suid-Afrika met ’n toerspan van 15 spelers wat eersdaags hul eerste amptelike wedstryd in Maryland in die VSA gaan speel.

Die Grid Iron SA-span, wat spelers in die noordelike voorstede van Kaapstad insluit, sal Suid-Afrika in April in ’n internasionale voetbaltoernooi daar verteenwoordig.

Die hulpafrigter Armin van As (22), ’n afrigter in krieket, spiesgooi en rugby by die laerskole Brackenfell en Curro, sê die doel van die toer is om Amerikaanse-voetbal in Suid-Afrika uit te brei en verder te ontwikkel.

“Met dié toer hoop ons om ons doel te verwesenlik om belangstelling aan te wakker in die sport. Ons is ook op die oomblik besig om belangstellende borge betrokke te kry, om sodoende plaaslike wedstryde te organiseer en om ook later aan meer internasionale toernooie deel te neem,” sê hy.

Grid Iron SA fokus daarop om die gemeenskaplike ontwikkeling van die sport te bevorder en is tans besig met beplanning vir formele implementering van die sport in belangstellende skole reg oor Suid-Afrika.

“Ons is in die proses om by die Suid-Afrikaanse Olimpiese Sportkomitee te registreer as ’n amptelike sportfederasie en beplan ook talle bekendstellings in die nabye toekoms.

Min ooreenkomste

Van As sê die fisieke aspek van die spel kan vergelyk word met rugby se fisiekheid, maar verder as dit is daar nie veel ooreenkomste nie.

Hy verduidelik die spel as volg: “Span een se aanval het besit van die bal met span twee wat verdedig. Die span met die bal het vier probeerslae om 10 yards (20 voet) te vorder. Indien hulle nie ná daardie vier probeerslae die bal verder as 10 yards kan bevorder nie, noem hulle dit ’n turnover. Dan kom span twee se aanval op die veld met span een wat verdedig.

Daar is drie maniere om punte aan te teken. “’n Touchdown, wat is soos om ’n drie te druk in rugby, is ses punte en ’n point after touchdown is een of twee punte. Jy kan skop vir een punt, of hardloop of gooi vir twee punte. Dit is soos om ’n drie te verdoel in rugby. Dan kan jy ook ’n field goal skop wat drie punte tel. Dit is soos ’n strafskop in rugby,” verduidelik hy.

“Daar is te alle tye 11 spelers van elke span op die veld. Elke span kan sy 11 spelers konstant uitruil, afhangend van die situasie op die veld. ’n Wedstryd bestaan uit vier kwarte van 15 minute elk met ’n kort rustyd tussen die kwarte. Halftyd van 15 minute is tussen kwart twee en drie.

“Net soos in rugby kan jy ook ’n field goal skop wat vir drie punte tel – dieselfde as ’n strafskop. Die bal kan ook vorentoe gegooi word.“

In die VSA is daar 32 spanne in die NFL (National Football League) en elke span bestaan uit ’n aktiewe rooster van 53 spelers.

Grid Iron SA is in 2015 as ’n nie-winsgewende organisasie geregistreer. Daar is reeds agt spanne in die Wes-Kaap gestig, wat elk bestaan uit 30 spelers.

Die span se quarterback, Jandro Conradie, is in beheer van die afrigting en ontwikkeling van die sport in die Wes-Kaap.

Bekendstelling

’n NFL-bekendstelling, aangebied deur Multichoice, het in September verlede jaar in Pretoria plaasgevind.

“Ons het egter eers in Augustus 2022 ernstig begin oefen met weeklikse oefeninge ter voorbereiding vir die opkomende toer, asook om die sport in Suid-Afrika te ontwikkel. Ons doelwit is om voetbalspanne in elke provinsie te stig sodat al die spanne teen mekaar kan speel in ’n gestruktureerde liga,” sê hy.

“Ons oefen elke naweek reg oor die land. In die Wes-Kaap oefen ons óf by Coetzenburg-sportterrein in Stellenbosch óf by Durbell-rugbyklub in Durbanville. Elke oefensessie is oop vir enige speler van enige ouderdom. Ons jongste deelnemer wat al by ’n oefening was, was sewe jaar oud.”

Die sport is deur die span se hoofafrigter, Stephen Radebe, gestig as gevolg van sy liefde vir die sport en sy droom om die sport in Suid-Afrika te laat groei.

Radebe in Johannesburg en sy mede-afrigters Tyler Cawood en Nick Flowers, albei in Gauteng, het die span se sogenaamde playbook ontwikkel.

“Ons implementeer die spelpatrone in ons weeklikse oefeninge en indien hulle wil hê ons moet enige ander oefeninge doen, laat weet hulle ons net en ons doen dit. Ons stuur ook elke week ons oefenvideo’s vir hul vir terugvoering en aanbevelings om ons spel te verbeter.

“Die hoofdoelwit van ons afrigters is om ons kennis van die spel te verbreed, siende dat dit ’n baie ingewikkelde spel is. Daar is baie reëls, strategieë en tegnieke wat spelers moet ken. Hulle moet te alle tye kan aanpas by enige situasie op die veld.”

Volgens Van As het die mede-afrigter, Tyler, die meeste ervaring in die hele groep.

“Hy het reeds in Australië gespeel, en hy het Australië al in ’n internasionale toernooi verteenwoordig.”

Grid Iron SA beoog ook om met bestaande spanne in Afrika te kompeteer.

“Daar is voormalige NFL-spelers van lande soos Kenia en Nigerië, en hulle het teruggekeer na hierdie lande en klinieke en kampe aangebied om die groep te vergroot en die spelers te ontwikkel,” sê hy.

Besoek New York

Met sy besoek aan New York in 2014 het Van As as 14-jarige vir die eerste keer kennis gemaak met die sport.

“Ek het dit al vele kere in flieks gesien soos Facing the giants, Blindside en When the game stands tall.

“Dit was egter in 2016 dat ek ernstig begin belangstel het in die sport nadat ek die Superbowl gekyk het.

“Ek het daagliks begin oefen en al hoe meer van die spel begin leer en hou. Oorspronklik was my plan om in Texas te gaan studeer en die spel daar te beoefen, maar dit het nie gerealiseer nie.

“Sedertdien het ek op my eie begin oefen om myself voor te berei vir die NFL se internasionale program. My oefenprogram sluit twee gimnasuim-sessies elke dag in, ’n veldsessie vier dae weekliks, asook ’n daaglikse sessie met vangwerk en veldroetes,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article