Ná ’n onderwysloopbaan van amper vier dekades – waarvan 16 jaar by die Hoërskool Brackenfell – het Joanna Loftus aan die einde van Januarie afgetree.
Dié hoërskool was baie na aan haar hart. “Die Hoërskool Brackenfell is my hart se punt. Die onderwysers werk baie hard en gee hul alles en ek het groot waardering vir die administrasie en terreinpersoneel. Ek gaan almal baie mis,” sê sy.
Joanna het hoofsaaklik geografie onderrig, maar ook Afrikaans. Sy was ook die o.14-netbalspanbestuurder en het vir 10 jaar die o.19A- en B-netbalspanne afgerig.
Sy is gebore in Malmesbury en het haar skoolloopbaan by die Laerskool Parke in Mosselbaai begin. Sy het haar hoërskoolloopbaan in Worcester by die Hoërskool Montana voltooi en daarna ’n BA (Honneurs) in geografie en ’n onderwysdiploma by die Universiteit Stellenbosch voltooi. Sy het by verskeie skole onderrig gegee voor sy in 2007 by die Hoërskool Brackenfell aangesluit het.
Haar liefde vir die onderwys, sê sy, het sy by haar ma geërf.
Ingebore liefde
“Daar is ’n ingebore liefde om kennis en inligting oor te dra, veral met geografie wat my fassineer. Die natuurlike fisiese omgewing met kunsmatige strukture het my nog altyd geïnteresseer. Jong mense is verfrissend, eerlik en ontvanklik vir kennis.
“Dit was altyd vir my ’n hoogtepunt wanneer ’n leerder ’n moeilike konsep snap en selfvertroue in sy werk bekom of ’n nuwe blaadjie omslaan, maar ook baie hartseer wanneer ’n kind alle hoop verloor en moed opgee met sy gesinslewe en afwaarts begin spiraal,” sê sy.
Sy het veral baie mensekennis opgedoen in haar onderwysloopbaan.
“En daar is deurentydse vernuwing – of dit nuwe inligting, denke, tegnologie of vaardighede is. Dit is ’n dinamiese beroep, al sien jy nie altyd onmiddellik die resultate van wat jy gesaai het nie.”
Maar ongelukkig het dissipline teenoor kinders by die ouerhuis baie verslap oor die jare, sê sy.
“Daar is twee groepe ouers, dié wat alles insit en dié wat apaties is en nie ’n goeie voorbeeld vir hul kinders stel nie.
“Goeie maniere is essensieel in die daarstelling van goeie dissipline. Die meerderheid van die kinders is gemanierd, maar die ongemanierde leerders is iets ysliks!”
Joanna sê sy is baie opgewonde oor haar aftrede. “Dis ’n bevrydende gedagte – ’n tweede kans vir lewe. My planne lê alles voor die Here; ek vra Sy leiding en seën. Ek sal graag wil voortgaan met kunsklasse en Italiaanse klasse en ook verder studeer in omgewingstudies.
Dan wil sy reis, plaaslik en oorsee, by ’n diereskuiling werk en tot diens wees van haar medemens, sê sy.





