Inwoners van Monte Vista en Panorama het ook verlede week die bydrae van ’n gemeenskapswerker geprys nadat sy ’n burgemeesterstoekenning ontvang het vir haar diens.
Riana de Wet, ’n inwoner van Monte Vista en voormalige lid van die Monte Vista en Plattekloof Glen-belastingbetalersvereniging, is vroeër vandeesmaand met dié toekenning vereer as erkenning vir haar bydrae tot gemeenskapsdiens.
Kelvin Irvine, ’n mede-lid, sê De Wet is ’n besonderse persoon en aanwins vir die gemeenskap. “Ek het die voorreg gehad om met haar te werk in die komitee en het ook as haar adjunk-voorsitter gedien. Ek kan eerlikwaar sê dat dit ’n absolute plesier was om met haar te werk. Daar is nie ’n enkele gemeenskapsprojek waarby sy nie direk betrokke was nie.
“Sy het nog nooit enigiets gedoen vir die toekennings of roem nie, en is nie selfsugtig nie. Dit is amper onmoontlik om haar bydrae en waarde te meet,” sê Irvine.
Paul Kruger, lid van die Plattekloof-, Welgelegen-, Panorama- en Kleinbosch-buurtwag (PWP), het ook nóú met De Wet saamgewerk.
“Sy is soos ’n ou moedertjie vir almal in ons gemeenskap. Sy gaan altyd uit haar pad om ander te help en offer ure en ure op van haar persoonlike lewe.
“Riana, jy lê diep in my hart en is ’n groot steunpilaar in my en die gemeenskap se lewens. Jy verdien die burgemeesterstoekenning meer as enigiemand anders. Geluk ystervrou van die gemeenskap!” sê Kruger.
Cheryl Visser, wyksraadslid, het De Wet benoem en het die toekenning aan haar oorhandig.
De Wet is ook lid van die groep wat die nuwe Monte Vista-gedenkpark help vestig het, en het ook die nuwe K9-hondepark in Ambleside tot stand gebring.





