Henry Prins se program op Radio Eersterivier gee inspirasie

Henry Prins, omroeper by Radio Eersterivier.


As jy soek na inspirasie om aan te gaan, is Your Community Talk Show elke Dinsdag om 09:00 op Radio Eersterivier die plek.

Radio Eersterivier het in die inperkingstyd ontstaan omdat die stigters gevoel het daar is nie ’n ander stasie wat na hul behoeftes omsien nie.

Henry Prins, die bemarkingsbestuurder van die stasie en ook die aanbieder van die program, sê hy het dit begin omdat hy aan gemeenskapswerkers blootstelling wou gee.

“Daar is so baie mense wat onbaatsugtige dade in die gemeenskap verrig en niemand hoor ooit van hulle nie. My idee was om hulle blootstelling te gee, sodat hulle ook hulp uit die gemeenskap kon ontvang,” sê Prins.

Volgens hom het die program toe verander in een wat op inspirasie-stories fokus.

“Ek nooi mense van verskillende agtergronde om saam met my te kom gesels oor die dinge wat hulle oorkom het om uiteindelik suksesvol te wees.

“Wanneer luisteraars na die stories luister, kan hulle daarmee identifiseer en dit kan hul lewens verander. Die terugvoer wat ons van die luisteraars kry, is positief en ons het baie lojale luisteraars,” sê Prins.

TygerBurger het in die tevore oor Prins se eie pad van armoede van Touwsrivier tot in Doebai tot hotelbestuurder berig.

Vandag is hy ’n suksesvolle sakeman in eie reg.

“Wanneer ’n mens swaar grootgeword het, sien jy die lewe deur ’n ander lens. Ons het op ’n plaas gebly en moes amper 30 km skool toe en terug stap. Dit het my gemaak wie ek vandag is en ek wil elke dag van my lewe gebruik om die lewe vir ander mense beter te maak. Hierdie platform gee my die geleentheid om vir ander mense te wys dat ’n mens alles kan oorkom en suksesvol wees in die lewe,” sê Prins.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article