‘Meneer Grys’ nou hoof van Laerskool Eversdal: Nuwe skoolhoof wil voorgangers eer en skool dien

Gys Burger (regs), wat pas permanent as skoolhoof by die Laerskool Eversdal aangestel is, staan by Roux van Zyl (beheerliggaamvoorsitter) en Debra Horne (Wes-Kaapse Onderwysdepartement).


Dit was so hittete of Gys Burger (38) het ’n argitek geword.

Hy was vir die kursus ingeskryf, maar het toe op die nippertjie besluit hy moet sy passie volg – om mense te ontwikkel.

En nou, 20 jaar later, is hy verantwoordelik vir die ontwikkeling van ’n hele gemeenskap nadat hy op 15 Maart as die hoof van die Laerskool Eversdal aangewys is.

Spanspeler

Hy was baie oorweldig toe hy hoor hy het die pos gekry, sê Burger, wat sedert die begin van die jaar as waarnemende hoof gedien het.

“Ek het nie besef dat die ondersteuning van my so geweldig groot is nie,” sê hy verbaas. “Ek het ongelooflik baie boodskappe, SMS’e, WhatsApps, e-posse, oproepe en besoeke ontvang. Dit was ’n openbaring en ek is vir elke gelukwensing nederig dankbaar.”

Sy kollegas praat met groot lof van hom. Een van hulle sê ’n mens kan hom eintlik ’n sagmoedige reus noem. “Alhoewel hy so lank is en ’n harde stem het, is sy hart sag.”

Die kleiner kinders het glo veral ná sy aankoms na hom as “meneer Grys” verwys.

Een van sy uitstaande kwaliteite is ook sy gewilligheid om deel te neem – iets wat iemand wat die skool se Facebook-blad volg, vinnig sal sien op foto’s waar hy byvoorbeeld met sy werksklere in die skoolswembad spring.

“Gys is ’n spanspeler,” beaam die kollega. “(Hy) is altyd reg vir aksie en ’n “bok vir sports” – voor in die koor. As daar spanbou-aktiwiteite is, sal hy maklik voorloop en die eerste een wees om die uitdagings aan te pak.”

Pad na hoofskap

Burger sal vanaf 1 April amptelik in sy nuwe rol begin. Hy volg in die voetspore van Henk Arangies, wat einde 2022 afgetree het.

Dis ’n groot taak en groot skool wat hy nou lei, sê hy. Die 107 personeellede werk saam met 1 342 leerders, wat van Eversdal, Stellenberg en omgewing kom.

Maar hy is beslis reg vir die uitdaging. Hy het aanvanklik nie daaraan gedink om eendag hoof te word nie. Hy was gelukkig om in sy eie klas te bly, maar erken hy het altyd ’n hunkering om die beste weergawe van homself te wees en “altyd te bly groei, verbeter en ontwikkel”. Toe hy besef sy impak kan wyer strek as die klas, het hy met alle mag dié missie aangepak.

“Ek het geweet dat my invloed as skoolhoof die hele gemeenskap kan bereik en daardeur die groter wisselwerking van alle mense kan beïnvloed. Toe dit my doelwit word, het ek alles gedoen wat ek kan om dit te bereik.”

Hy is al sedert 2011 by die skool, waar hy al sedert 2013 in die bestuurspan dien.

Dit was juis hierdie tyd in die bestuurspan wat vir hom ’n hoogtepunt by die skool is. Oor die afgelope dekade, onder leiding van Arangies, het die skool groot veranderings ondergaan.

Gys Burger, nuwe skoolhoof by die Laerskool Eversdal, spring in die skoolswembad terwyl Tobi-Jacques Reitz, onderwyser, die skoot laat klap.

Die kampus is opgeknap, fasiliteite is ontwikkel, klaskamers is anders uitgelê en die metode waarop almal skool gee, is verander.

Die skool is onder meer daarvoor bekend dat die kinders nie huiswerk kry nie en op tablette werk.

Hy wys egter gou uit dat tegnologie nie ’n fokus is nie, maar ’n hulpmiddel wat help om nuwe denkwyses te ontwikkel.

Ontwikkeling van kinders en ander om hom is duidelik ’n passie en dit bly vir hom die vreugde van onderwys as hy sien hoe kinders uitdagings oorwin en emosioneel groei.

Agtergrond

Burger, wat in Wemmershoek naby Franschhoek bly, het in Bellville grootgeword waar hy aan die Laerskool Bellpark en die Hoërskool Bellville skoolgegaan het.

Hy het onderwys by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) se Wellington-kampus gestudeer.

Daar was sy hoofvak ekonomie, maar hy het vir die meeste van sy loopbaan wiskunde gegee – iets wat hy gaan aanhou doen “oor verskillende grade om spesifieke doelwitte by die skool oor te dra.”

Eversdal is die vierde skool waar hy werk. Hy het eers by sy alma mater, die Hoërskool Bellville, begin en toe by ’n Rooms-Katolieke skool in Hua Hin, Thailand, skoolgegee.

“Toe ek terugkeer na Suid-Afrika het ek by die Laerskool Bastion skoolgegee en in 2011 by Laerskool Eversdal begin.”

Sedert daardie eerste dag toe hy by die skool ingestap het, het hy al in verskeie rolle gedien. Hy was hy al ’n klasonderwyser, interne departementshoof, departementshoof vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), interne adjunkhoof, WKOD-adjunkhoof en waarnemende skoolhoof.

Vir ontspanning hou hy van lees en om in die natuur te wees.

“Ek is baie avontuurlustig en wil altyd nuwe ervarings ontdek. Ek is baie lief vir die see en hou van 4×4 ry.”

Hy is ook mal oor reis – iets wat hy as ’n groot voorreg beskryf.

Ander mense

Hy glo sterk daaraan dat hy sy goeie kwaliteite in sy loopbaan en as mens aan ander te danke het.

“Ek glo dat wanneer jy ’n goeie mens is, kom daar goeie mense oor jou pad.”

Daar het goeie mense oor sy pad gekom en almal het ’n reuse-rol gespeel – professioneel en persoonlik, sê hy.

Op hoërskool al het die onderwysers hom diep beïnvloed. “Hierdie mense het die omgee-etos van die skool elke dag geleef. Dit het ’n lewenslange impak op my gemaak.”

Vandag is dit sy fondament wanneer dit kom by hoe hy mense behandel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article