Eben Jacobs met sy goue medalje.


Eben Jacobs, ’n gr.10-leerder aan die Hoërskool De Kuilen, het verlede week by die SA Hoërskole-atletiekkampioenskap in Germiston die goue medalje vir hamergooi vir seuns o.17 met ’n persoonlike beste afstand van 62.15 m verower.

Sy afrigter, Leon Spies, sê Eben is vinnig besig om homself as een van die beste hamergooiers in die land te vestig.

Eben Jacobs met sy goue medalje.

Eben se goue medalje volg kort op die bronsmedalje wat hy die vorige week by ASA se SA Jeug en Junior kampioenskap (vir klubatlete) in Pietermaritzburg verower het.

Spies sê Eben het nie volgens sy volle potensiaal in Pietermaritzburg presteer nie. Sy afstand van 55.78 m was heelwat onder sy (toe) persoonlike beste van 60.98 m.

“Daar moet in gedagte gehou word dat dit Eben se eerste SA kampioenskap was en dat die senuwees maar erg geknaag het”, sê Spies.

“In Germiston was hy baie meer ontspanne en ’n bietjie meer gewoond aan die druk wat so ’n kompetisie kan bring.”

Spies sê wat daardie goue gooi nog meer spesiaal maak, is dat Eben, wat laaste van al die deelnemers moes gooi, tot voor die laaste gooi nog in die derde plek was. “Dit wys net die ongelooflike karakter waaroor hierdie jong atleet reeds beskik.”

Hamergooi-akademie

Eben is ’n lid van Spies se DK (De Kuilen) Hamergooi-akademie en het maar net bietjie meer as ’n jaar gelede met hamergooi begin.

“Alhoewel hy in 2022 reeds WP-skolekleure verwerf het, het hy eers aan die einde van die jaar regtig goeie afstande begin behaal.

“Dit was net die motivering wat hy nodig gehad het om nog harder te begin oefen, veral ook omdat hy vanjaar met ’n swaarder hamer moes begin gooi,” sê Spies.

Spies se atlete by die akademie oefen vier dae per week en neem bykans elke Saterdag aan WP-atletiek se ligabyeenkomste deel. Hulle gaan neem ook soms aan Boland se ligabyeenkomste in die Daljosafat-stadion in die Paarl deel.

“Tot op hede is Eben die enigste o.17-atleet in Suid-Afrika wat vanjaar oor die 60 m-merk kon gooi. Hy het dit reeds twee keer reggekry – eers by ’n ligabyeenkoms en toe weer by die SA kampioenskap toe hy sy persoonlike beste gegooi het,” sê Spies.

Eben gaan nou eers, soos die res van die akademie se atlete, ’n maand lank rus voordat hy met sy winteroefenprogram begin.

Realisties

”Ons al twee is realisties daaroor dat daar nog steeds baie harde werk voorlê – in die gimnasium, maar ook aan sy tegniek,” sê Spies.

Eben het by die SA kampioenskap vir Chris Harmse ontmoet, wat 23 jaar lank die SA hamergooikampioen was.

“Harmse was dadelik by met lof, maar ook met raad – iets wat vir Eben geweldig baie beteken het.

“Ons vertrou dat ons in die toekoms nog baie van hierdie belowende atleet gaan hoor,” sê Spies.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article