Gypsy (Dewald Smit) was die manswenner van die Bakgat “Country Star Search”-kompetisie.


As jy ’n liefhebber van countrymusiek is, moet jy nie die tiende Bakgat Country Opskop-vertoning by die Grand Arena, GrandWest op Saterdag 3 Junie om 18:00 misloop nie.

Die groep West, Tarryn Lamb, Joanna Field, Tommy Dell, Ray Dylan, Elandré, Chris Else, Dodo, Chereé en die twee wenners van die 2021-’22 Bakgat “Country Star Search”-kompetisie, Karla Gouws en Gypsy, gaan saam met die negestuk-orkes, The Banned, seker maak die gehoor se voete gaan jeuk.

Karla en Gypsy kry uiteindelik, ná die onderbreking van die pandemie, hul eerste kans op die Bakgat Country-opskopverhoog.

Die twee jong sterre, wat onderskeidelik as die beste vroue- en beste mansstem by die Bakgat “Country Star Search”-kompetisie aangewys is, sien albei uit na die geleentheid.

Die 21-jarige Karla van Despatch in die Oos-Kaap het al op die ouderdom van nege ’n passie vir sing ontdek, maar moes aanvanklik hoor sy sou ’n ander loopbaan moet kies.

“Ná elke dag se geoefen voor ’n spieël in my kamer en na liedjies luister op radio, het my pa eendag in my kamer gekom en vir my gesê ek moet ’n spesifieke lied weer sing.”

Haar pa, wat 18 instrumente kan bespeel en jare in die musiekbedryf betrokke is, het haar toe onder sy vlerk geneem, vertel Karla.

Pa en dogter het sewe jaar gelede saam begin optree en al heelwat voorvertonings vir kunstenaars soos onder andere Demi-Lee, Steve Hofmeyr en Juanita du Plessis gedoen. Karla het al verskeie sangkompetisies gewen, maar sê om die “Country Star Search” te wen, was ’n mylpaal wat uitstaan.

Gypsy, oftewel Dewald Smit van Pretoria, het as 19-jarige deeltyds begin sing, maar doen dit nou voltyds. Hy is siggestremd, maar baie onafhanklik en het klankingenieurswese gestudeer. Hy sing liedjies van bekendes, maar ook van sy eie werk.

Een van die ou bekendes saam met wie Gypsy en Karla die verhoog gaan deel is Tommy Dell, wat reeds meer as 60 jaar ondervinding in die musiekbedryf het. Tommy is sinoniem met treffers soos “Teddy Bear”, “Little Rosa” en vele meer.

Kry kaartjies by www.iTickets.co.za. Bel Christo by 082 895 5093 met navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article