Die Goodwood-gemeenskap het saamgespan om die Protea-tehuis se 60ste bestaansjaar vir die inwoners spesiaal te maak.
Die inwoners en personeel van die tehuis vir bejaardes in Goodwood het op Woensdag 23 April met groot opgewondenheid en dankbaarheid dié mylpaal gevier.
Die verrigtinge is om 10:00 met ’n dankgebed deur André Verster, bestuurder en direkteur, geopen.
Kapt. Wayne Theunis, skakeloffisier van Goodwood se polisie, het die inwoners met geestelike aanhalings bemoedig, waarna hy veiligheidswenke vir bejaardes met die inwoners en personeel bespreek het.
Aneeqah Jordaan, direksielid, het daarna ’n Leon Schuster-rolprent vertoon – tot groot vermaak van die inwoners en personeel.
Die rolprent is opgevolg met musiek deur Mannetjies Venter, waarna die tehuis se spyseniers, Western Province Caterers, ’n heerlike maaltyd en koeldrank voorsien het. Die verrigtinge is met nog musiek en nagereg afgesluit.
R23 000 geskenk vir stoep
Die inwoners se versnaperings, koeldrank en nagereg is deur Anton en Annelize Heys van Martins-begrafnisdienste geborg.
Shoprite Vasco se varsproduktebestuurder, Gavin Carelseen, en administratiewe bestuurder, Marsheline Calvert, het ’n reuse-gedenkkoek vir die tee geskenk.
Die Protea-tehuis se familie-geldinsamelingskomitee het die blompotte en blombakke in die binnehof en voorstoep pragtig geverf.
Altesame R23 000 is ook deur die komitee bewillig om die tehuis se voorstoep met weerseile toe te rus om sodoende die stoep meer toeganklik vir die inwoners en besoekers te maak en daardeur die inwoners se lewensgehalte te verhoog.
“Talle aktiwiteitsprogramme en geldinsamelingsprojekte bevoordeel ook ons inwoners en personeel,” sê Verster.
“Ons is ons Hemelse Vader, direksie, families, vrywilligers, personeel en donateurs dankbaar vir hul liefde, deernis en betrokkenheid wat dit vir Protea-tehuis moontlik maak om ons kosbare en gewaardeerde bejaarde inwoners na die beste van ons vermoë te versorg,” voeg Verster by.





