Drie jaar gelede was hulle in ’n motorhuis doenig, maar vandag spog Radio Eersterivier met ’n hipermoderne studio van waar hy die gemeenskap vermaak.
Die stasie is op 22 April 2020 tydens inperkings weens die Corona-virus deur die huidige uitvoerende hoof, Joshua Kinnear, en ander gestig.
Volgens Henry Prins, woordvoerder van die radiostasie, het hulle deur harde werk die stasie uitgebou. “Toe ons uit die motorhuis uitgesaai het, het ons in ’n stadium 51 000 luisteraars gehad. Vandag het ons sowat 1,6 miljoen luisteraars. Ons is trots daarop om ’n platform te skep vir ons plaaslike mense om hul talente uit te stal. Vandaar ons leuse: ‘Onse stasie, onse talent, onse mense’,” sê Prins.
Die span van Radio Eersterivier het die afgelope Saterdag makietie gehou om die derde verjaarsdag te vier.
Volgens Prins is die stasie ook nie net daar vir vermaak nie, maar wil hy die gemeenskap bystaan. “Ons doen baie uitreikings onder leiding van Gillian Daniels, ’n aanbieder by die stasie. Sy bestuur die kombersveldtog en ander projekte. Ons is deel van die gemeenskap en die gemeenskap is deel van ons, dus moet ons na mekaar omsien,” sê Prins.
Die stasie gaan in die toekoms internskappe aanbied aan jongmense wat in die radiobedryf belangstel. “Ons wil hê jongmense moet praktiese kennis opdoen sodat hulle vir hulself ’n beter lewe kan skep,” sê hy.
Kontak Bevan Jacobs by info@radioeersterivier.co.za met navrae.





