Alles sal op 28 Julie gereed wees wanneer die wêreld op Kaapstad toesak vir die netbal-wêreldbekertoernooi.
Só sê dr. Charlotte Scholtz van Ravensmead, wat as die tegniese afgevaardigde van Wêreld Netbal moet sorg dat dinge glad verloop in die aanloop tot en tydens die toernooi.
Scholtz is in 2021 in hierdie pos aangestel.
Scholtz, ’n genetikus van beroep, sê sy het baie geleer tydens die hele proses.
“Die reis tot dusver was nogal uitdagend en baie interessant. Baie van die dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar by toernooie van dié statuur, verg beplanning en sweet. Dit is lekker en opwindend en ek leer baie. Ek dink my ‘mindset’ was baie eng en dit het veroorsaak dat ek soms óf te veel óf te min aandag aan klein besonderhede gee. So dis belangrik om die balans te behou. Dit is egter lekker dat ek op verskeie ervare mense kan staatmaak,” sê Scholtz.
Volgens haar is dit vir haar ’n groot eer om by hierdie geskiedkundige toernooi betrokke te wees.
“Ons is besig om alles in plek te sit. Daar is nog genoeg wat gedoen moet word, maar ons sal gereed wees teen 28 Julie. Ek doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om die Spar Proteas en ook die toernooi self te ondersteun.
“Dit gaan ongelooflik wees om die 16 top-spanne in die wêreld hier te hê en ons weet nie wanneer dit weer gaan gebeur nie,” sê Scholtz.
Sy sê sy kan nie nou sê hoe sy as mens gegroei het nie.
“Jy moet my in September vra. Ek is nog in die groeiproses.
“Ek het vir seker ’n waardering ontwikkel vir die mense agter die skerms van sulke geleenthede, want dit is waar baie van die bloedsweet lê en hulle kry nie aldag die waardering wat hulle toekom nie,” sê sy.





