Man van Eersterivier speel Russiese velde aan die brand

Quan Eymann stal sy talente uit.


As daar een ding is waarna hy nie in Suid-Afrika verlang nie, is dit beurtkrag.

Só sê Quan Eymann van Eersterivier, wat tans vir die Khimik Dzerzhinsk-klub in Rusland rugby speel.

Quan Eymann stal sy talente uit.

Nou hoe beland ’n klong van Eersterivier in Rusland van alle plekke?

Quan was aanvanklik ’n ster vir die skoolspanne vir wie hy gespeel het en het uiteindelik die Westelike Provinsie en die Sharks op junior vlak verteenwoordig.

Quan Eymann met een van sy Speler van die Wedstryd-trofeë.

Verskeie beserings het amper sy loopbaan tot stilstand gebring en hy het uiteindelik by die Luiperds in Suid-Afrika se Curriebeker se tweedeliga beland.

Dit is daar dat hy en nog ’n spanmaat ’n oproep ontvang het om in Rusland te gaan speel.

“Ek sou baie graag vir een van die Suid-Afrikaanse spanne wil speel, want ek dink dit is elke seun in Suid-Afrika wat rugby speel se droom om vir ’n plaaslike franchise en dalk vir die Springbokke te speel. Al is dit ook Sewes, ek droom nog van die Groen-en-Goud. Intussen laat ek my hier geld en gee ek elke dag net my beste,” sê Eymann.

Volgens hom is die rugby ’n bietjie stadiger in Rusland.

“Ek sal sê dit is gelykstaande aan die Curriebeker in Suid-Afrika. Daar is ’n paar Suid-Afrikaners wat hul rugby hier uitleef omdat hulle nie geleenthede in Suid-Afrika kry nie,” sê Quan.

Hy is ook nie net daar om die getalle vol te maak nie en was al verskeie kere speler van die wedstryd. Daar word gereeld oor hom geskryf in rugby-publikasies. In een artikel word geskryf: “Dit het gelyk of alles verlore is, maar toe het Khimik waarskynlik die beste fase van spel in die kampioenskap gelewer. Quan Eymann het die hoofkarakter geword. Eers het die heelagter langs die kant af gebreek, geskop en self die bal gevang en ’n pragdrie gaan druk. In die sewentigste minuut het hy weer die krag van sy voete gewys.”

Quan sê hy leer baie in Rusland en wanneer sy kontrak aan die einde van die jaar eindig, sal hy sy ware in Suid-Afrika wil kom uitstal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article