Spitsverkeer in Plattekloof is Dinsdagoogend (23 Mei) erg ontwrig nadat
‘n bakkie, ligte vragmotor en nog ‘n voertuig teen mekaar gebots het. Die
bakkie het op ‘n kontroleboks van ‘n stel verkeersligte naby die Nortlink College
tot stillstand gekom. ‘n Ooggetuie op die toneel het gesê die voertuig het
blykbaar gerol.
Die ongeluk het kort ná 08:00 op die hoek van Rothschild Boulevard en
Plattekloofweg enkele meter van die Mediclinic Panorama-hospitaal plaasgevind.
Die ligte vragmotor het in Rothschild Boulevard, in aankomende verkeer,
tot stilstand gekom.
Die nooddienste ER24, Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste en
polisiebeamptes was op die toneel.
Met TygerBurger se besoek aan die toneel is twee pasiënte, albei
mans, uit die wrak van die Ford-bakkie gehaal deur paramedici en na ‘n hospital
vervoer.
Die verkeer is deur die polisie gereël.
Jermaine Carelse, woordvoerder van die brand- en reddingsdienste, sê die
diens is kort na 08:00 van die motorongeluk in kennis gestel. Drie voertiue was
by die ongeluk betrokke, en een het teen die verkeersligte se kontroleboks by
die kruising gebots, sê hy.
Brandweerdienste van Milnerton en Goodwood is uit na die toneel. Met hul
aankoms is vasgestel dat ER24 en die polisie reeds op die toneel was.
“Om 08:30 is noodhulp op ‘n volwasse man toegepas en hy is na die
Mediclinic Panorama-hospitaal vervoer. Vyf ander pasiënte, ook almal mans, is
op die toneel behandel,” sê hy.
Kort na 09:00 is die res van die pasiënte na die Karl Bremer-hospitaal
in Bellville vervoer.
“Die bakkie wat teen die kontroleboks gebots het, is deur middel van ‘n
TR3-herwinningsvoertuig van die brandweerdiens bevry,” se Carelse.
TygerBurger wag op amptelike
kommentaar van ER24 en die polisie.





