Gemeenskap pas self substasie op nadat krag vir dae weens kabeldiefstal af is

’n Vrywilliger kap ’n boom naby die substasie af.


’n Vermeende kabeldief se turf het verlede week lelik gesit toe hy hom met die beurtkrag-skedule misgis het.

Die vermeende dief was na bewering besig om met ’n kragboks te peuter in ’n poging om kabels te steel.

Terwyl hy besig was, het die krag aangekom en ’n reuseontploffing het plaasgevind.

Volgens Ismael Arnold, woordvoerder van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, was beurtkrag geskeduleer vir tussen 18:00 en 20:30.

“Omstreeks 20:00 het inwoners ’n harde knal gehoor en toe hulle kyk, was ’n man aan die brand. Nie ver van die toneel nie was ’n openbare vergadering aan die gang en gemeenskapsleiers het hulle daarheen gehaas.

“Die polisie is ontbied en hulle het nooddienste laat kom.

“Die verdagte is op die toneel vir ernstige brandwonde behandel en is tans onder polisiebewaking in die hospitaal,” sê Arnold.

Hy het weer ’n beroep op die gemeenskap van Belhar gedoen om saam te werk om kabeldiewe hok te slaan.

“Dit is mense wat in ons gemeenskap woon wat hierdie misdade pleeg.”

“As jy weet iemand is besig met kabeldiefstal, meld dit anoniem aan. Dit gaan ons almal help,” sê Arnold.

Inwoners van Silversands en die sekerheidskompleks in Silversands, Bardale Village, het verlede week gaan wagstaan by ’n nabygeleë substasie. Dit volg op ’n voorval voorverlede week toe kabeldiefstal veroorsaak het dat groot gedeeltes van Silversands vir vyf dae sonder krag was.

Aquila Visser sê nege van haar bure het by die substasie gaan staan in die tydperk wat die krag vir vier ure af was.

“Ons wou verhoed dat boewe kans kry om weer die kabels te steel. In die tyd wat ons daar was, het verskeie ander gemeenskapslede by ons aangesluit. Verskeie mense het deur die loop van die aand kom seker maak dat die substasie veilig is,” sê sy.

Visser sê sy hou nie van leë beloftes nie.

“Woorde sonder aksie beteken niks. Ek hoop ons kan die samewerking van die gemeenskap kry, want ons gaan nie hierdie taak versaak nie; ons is die mense wat ly,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article