Voer word uitgedeel in SA Water Warriors se mees onlangse uitreikprojek in Leeu Gamka.

Credit: SYSTEM

SA Water Warriors het met die “dag zero”-scenario water begin inbring van alle dele van die land na Kaapstad.

Die water is versprei na aftreeoorde, skole, hospiese en selfs diereskuilings.

“Mettertyd het ons versoeke gekry vir water in ander gebiede, soos onder meer in Hopefield, Merweville en Caledon.

“Met verloop van tyd het ons ook versoeke begin ontvang van boere in droogtegeteisterde gebiede vir voer en self kos vir die boere en hul werkers,” sê Deon Smit, stigter van SA Water Warriors.

Die droogtegeteisterde Williston, waarna die SA Water Warriors op 22 Julie sal uitreik.

Smit meen soos die aanvraag gegroei het, het hulle uitgebrei en versprei hulle deesdae voer, water en kruideniersware na boere en hul werkers in droogtegeteisterde gebiede.

“Gedurende die vyf jaar dat SA Water Warriors aan die gang is, het ons ongeveer 30 boeregemeenskappe reg oor Suid-Afrika gehelp. Water is ook versprei na die destydse brande in onder meer Bettysbaai, Wuppertal en Paarl,” sê Smit.

Skenk en maak ’n verskil

Die organisasie het sy vorige uitreikprojek op 20 Mei gehou toe 180 gesinne in Leeu Gamka gehelp is. En die volgende uitreikprojek is op Saterdag 22 Julie in Williston in die Noord-Kaap, waar hy ongeveer 200 families gaan bystaan.

Volgens Smit wil hulle al teen 19 Julie al die kruideniersware en ander benodigdhede gereed hê.

“Daar is ook twee aftreeoorde op Williston wat ons graag sal wil help met kruideniersware. Geen uitreikings is moontlik sonder die hulp van die publiek nie. Ons vra dat die publiek by ons Facebookblad sal aansluit by https://www.facebook.com/groups/2015966815286967 en dit met hul vriende sal deel. Jy mag dalk nie in staat wees om te help nie, maar iemand op jou vriendelys wel. Ons kort al die hulp wat ons kan kry om ons boere en hul werkers te help,” verduidelik Smit.

  • Besoek https://www.sawaterwarriors.org/.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article