Inwoners van Eersterivier wil weet wanneer die Melton Rose-biblioteek weer sy deure gaan oopmaak nadat dit weens vandalisme gesluit is.

Nie net word leerders van die omgewing van ’n belangrike bron van inligting ontneem nie, maar ook inwoners wat van die biblioteek se internetdienste gebruik maak, word benadeel.

Michelle Linnert, inwoner van Melton Rose, sê sy doen vryskutwerk en maak gereeld van die biblioteek gebruik.

“Wanneer dit beurtkrag is, gaan ek na die biblioteek om die internet te gebruik om my take te voltooi. As die kinders skooltake het, gaan ons ook daarheen om inligting in te samel; dus is ’n geslote biblioteek ’n steurnis vir die gemeenskap. Ek weet van ander mense wat ook sukkel,” sê Linnert.

Sy sê, soos sy verstaan, is die biblioteek in November verlede jaar van elektriese kabels en pype gestroop en is die deure sedertdien gesluit.

Jan Kruger, woordvoerder van die Stad Kaapstad, het bevestig dat die biblioteek verlede November beskadig en gesluit is.

“Die inbraak by die biblioteek het groot skade veroorsaak. Daar was skade aan die plafon, deure, drade wat uit die dak geruk is, inligtingstegnologie-toerusting en bedieners wat beskadig is. Die kragtoevoer is ook onderbreek. Selfs speelgoed vir kinders is gesteel,” sê Kruger.

Die Stad is tans besig met ’n proses om die biblioteek weer oop te maak, maar ’n datum vir die opening kan nog nie bevestig word nie,” sê Kruger.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article