Die veiligheid van plaaslike bejaardes was die hoofdoel toe die Parent Safety Patrollers, tesame met Christopher Jordaan, raadslid in Ruyterwacht, seniors oor die treinspoor begelei het om hul pensioen te gaan trek.
Volgens Aletta Lottering, stigterslid van die Parent Safety Patrollers, was die duikweg wat die seniors normaalweg gebruik onder water en die seniors moes toe oor die treinspoor loop om by hul bestemming uit te kom. “Maar ons kon hulpvaardig wees en hul veiligheid verseker,” meen Lottering.
Die Safety Parent Patrollers en ’n groep wat deur Jordaan saamgeroep is, was van hulp vir die seniors op Vrydag 2 Junie van 07:00 tot 10:00.
Lottering voeg by dat die duikweg baie gevare inhou en dit is hoekom die groep verlede maand ook by die duikweg gepatrolleer het. “Die seniors wat baie bly om ons daar te sien staan vir hul veiligheid,” sê Lottering.
Jordaan sê die rede hoekom hy saam gepatrolleer het, was omdat dit onaanvaarbaar is dat inwoners van hul besittings en geld beroof word.
“Bejaardes se veiligheid is vir my belangrik, want dis die mense wat vir ons die weg gebaan het en ek sal alles in my vermoë doen om hulle te beskerm,” verduidelik hy.
Jordaan het van die bejaardes wat die treinspoor by Sakabula moes oorsteek, fisiek gedra. Hy het selfs fietse oorgedra net om almal se veiligheid te verseker.
Volgens Jordaan word die duikweg telkemale deur vandale gestroop en selfs die waterpomp word elke keer gesteel.
“Ek het dieselfde dag die duikweg laat skoonmaak en die water is opgedroog deur ons water- en sanitasiedepartement,”sê hy.
“Ek sal nooit ophou om dienste te lewer aan die mees kwesbare mense in ons gemeenskap nie,” sê Jordaan.





