Die provinsiale polisie-orkes het die seniors in Ruyterwacht met hul musiek vermaak.

Credit: SYSTEM

Seniors in die Ruyterwacht-omgewing is op Donderdag 8 Junie deur die provinsiale polisie-orkes by die Ruyterwacht-seniorklub vermaak.

Volgens AO Esmarelda Flandorp van die Elsiesrivier-polisie is hierdie gebeure by die seniorklub ’n maandelikse instelling vir die seniors van Ruyterwacht.

“Die polisie, tesame met die Elsiesrivier-polisiekantoor se slagoffer-ondersteuningsgroep, is uitgenooi om die geleentheid by te woon. Die orkes is ook uitgenooi om ons te vergesel deurdat ons die atmosfeer en die gemoedere van ons seniors wil opbeur,” verduidelik Flandorp.

Sy meen seniors is gewoonlik die bevolkingsgroep wat maklik van vergeet word deur hul kinders, familie en vriende. “Platforms soos hierdie bied dan weer ’n geleentheid om daardie menswees te kan uitleef en terselfdertyd om ook die seniors in te lig oor geslagsgeweld – iets waaronder ons seniors baie gebuk gaan,” sê sy.

AO Esmarelda Flandorp spreek die seniors toe tydens hul byeenkoms en lig hulle in oor hul regte ten opsigte van geslagsgebaseerde geweld.

Seniors is ook nie altyd bewus van wat hul regte rondom die kwessie van geslagsgeweld behels nie, verduidelik Flandorp.

“So, dit is baie belangrik dat die onderwerp van geslagsgeweld gereeld aangeroer moet word om sodoende bewusmaking onder ons mense op alle vlakke in alle gemeenskappe te bewerkstellig.”

Flandorp sê: “Die teenwoordigheid van die orkes met hul musiek het die gees van ons seniors regtig weer kom opbeur.

“Dit was een van die redes hoekom die orkes ons vergesel het en hulle het hul goed van hul taak gekwyt.”

Volgens Aletta Loterring, stigterslid van die Parent Safety Watch, het die groep die seniors oor hul veiligheid ingelig.

“Die buurt is baie gevaarlik vir seniors, maar as ’n eenheid kan ons die euwels hokslaan,” sê Lottering

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article