Die Wes-Kaapse polisie is geskok nadat twee polisiebeamptes die afgelope naweek in twee afsonderlike voorvalle doodgeskiet is.
In die eerste voorval is sers. Sithembele Mketi (36), verbonde aan die Elsiesrivier-polisie, verskeie kere in Solomon Tshuku-straat in Site C geskiet.
“Mketi het in die straat gery toe ’n skieter omstreeks 17:30 sy motor genader en hom verskeie kere geskiet het. Hy is na die hospitaal gejaag, waar hy later aan sy wonde beswyk het,” lui ’n verklaring deur die provinsiale polisiewoordvoerder.
Omstreeks 18:00 is nog ’n sersant in Mandelapark geskiet in wat vermoedelik ’n rooftog was.
Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, generaal-majoor Bongani Maqashalala, sê in ’n verklaring die twee beamptes was in die fleur van hul lewens. “Hulle het nog so baie gehad om aan die gemeenskappe in die Wes-Kaap te gee. As die polisiebestuur hou ons die bedroefde familie in ons gebede,” sê Maqashalala.
Reagan Allen, die Wes-Kaapse minister vir polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, sê hy is geskok.
“Ek simpatiseer met die familie, kollegas en vriende van die twee sersante. Ek voel steeds ’n aanval op die polisie is ’n aanslag op die staat. Hierdie moorde word ten sterkste veroordeel en ek versoek enigeen met inligting om dadelik die polisie of ander wetstoepassingsagentskappe te kontak.”
Imraahn Mukaddam, woordvoerder van die Elsiesrivier-gemeenskapspolisiëringsforum, sê die gemeenskap is geskok oor die dood van Mketi. “Ek het hom persoonlik geken en is diep geskok oor sy wrede en onnodige afsterwe.
“Dié gemeenskap gaan gebuk onder baie geweldsmisdade en is al so gewoond aan moord, maar wanneer een van die mense wat ons moet beskerm vermoor word, is dit steeds ’n skok. Nie net Elsiesrivier nie, maar die hele land gaan gebuk onder ’n tekort aan polisiebeamptes. Ons kan nie bekostig om nog beamptes te verloor nie. Hierdie moorde is ’n aanslag op die hart van die gemeenskap en die staat,” sê Mukaddam.
Hy sê hy hoop die moordenaars word vinnig vasgetrek. “In ander lande word moord op ’n polisiebeampte as hoogverraad beskou, maar hier by ons is dit net gewone moord,” sê hy.





