Die Safety Parent Watch-groep van Ruyterwacht het op Jeugdag weer hul plig nagekom toe hulle van die geleentheid gebruik gemaak het om die jeug oor hul veiligheid op te voed en in te lig.
Hierdie Jeugdagvieringe het in samewerking met die Elsiesrivier-polisie se slagoffer-ondersteuningsgroep by die Hoërskool The Range in Elsiesrivier plaasgevind.
Aletta Lottering, stigterslid van die Safety Parent Watch, sê die jeug beleef baie uitdagings, maar hulle wil uitstyg en maatskaplike omstandighede maak dit soms nie moontlik nie.
“Bendebedrywighede maak dat kinders soms moet hardloop vir hul lewens,” sê Lottering.
AO Esmarelda Flandorp van die Elsiesrivier-polisie verduidelik dat die doel van die dag was om die jeug bekend te stel aan positiewe inisiatiewe, soos om by sport betrokke te raak. Volgens haar word die jeug daagliks deur die uitdagings van dwelmmisbruik, bendegeweld, gesinsgeweld, asook tienerswangerskap, in die gesig gestaar en raak hulle selfs diep daarby betrokke.
“Hierdie inisiatief word jaarliks aangepak om ons jeug met positiwiteit te beïnvloed en te probeer red van betrokkenheid by invloede wat hul lewenspad kan benadeel.
Die jeug betrokke by die sportdag was van die laerskole in die omgewing, asook gemeenskapsnetbalklubs.
“Die spanne was voorwaar kompeterend in hul onderskeie sportsoorte en ouderdomsgroepe,” meen Flandorp.
Volgens haar wil hulle hierdie toernooi graag jaarliks aanbied. Sy het ook die betrokke spanne bedank vir hul deelname, asook almal wat betrokke was, iets geskenk het of hul tyd afgestaan het.





