Nadat die walle van die Botfonteinrivier verlede Woensdag weens swaar reën gebars het, is ’n diereskuiling langs die rivier op die Bottelarypad oorstroom.
Volgens André van Wyk, bestuurder van Change of the Better Foundation, het die water vroegoggend al oor die walle begin stoot.
“Teen 07:00 het die water deur die walle gebars en met mag en mening deur die terrein begin spoel. Die kathokke was eerste onder water, gevolg deur drie van die hondekampe,” het hy Donderdag aan TygerBurger gesê.
Daarna het chaos op die kleinhoewe losgebars.
“Die katte was baie benoud en het vinnig teen die klimrame begin opspring om die water te ontwyk. In die kampe het die honde binne minute elmbooghoogte diep in die water gestaan en kon hulle nêrens heen gaan om die water te ontwyk nie. Ons het rondgehardloop om die honde na hoër grond te skuif en begin om water uit die kampe te pomp met ’n klein pompie. Ons het nie geweet hoeveel water nog op pad was en of ons dit sou kon stuit nie,” sê hy.
Altesaam 26 honde en 30 katte is geraak.
Noodkreet
Ná ’n noodkreet op sosiale media Woensdagoggend het die publiek vinnig gereageer en 30 diere is tydelik in mense se sorg geplaas.
“Donasies en komberse het ingestroom en ons kon die diere wat oorgebly het, warm en droog hou. Ons het katbokse hoog uitgepak vir die katte en vensters na ’n aangrensende kamer na die huis vir hulle oopgemaak. Die honde was baie getraumatiseer.”
Van Wyk sê dis die oorgroeide riete in die rivier wat die rivier se natuurlike vloei belemmer het.
Die skuiling het die plaaslike owerhede genader met ’n noodaansoek om die rivier te skraap en teen Woensdagaand toestemming verkry van die provinsiale departement van omgewingsake om voort te gaan. “Gelukkig kon ons al die red tape vryspring en Donderdagoggend het die boer oorkant ons met sy masjinerie die rivier skoongeskraap. Ons is dankbaar dat die departement so vinnig in die noodtoestand gereageer het. Die rivier se natuurlike vloei is nou herstel en ons hoop dat die water sal wegvloei van die oewers.”
Van Wyk sê dat as dit nie vir die hulp van die publiek was nie, dinge baie anders daar sou uitsien.
“Die diere se lewens was definitief in gevaar en ek wil nie eens dink aan wat kon gebeur het nie. ’n Magdom van mense het ons te hulp gesnel om te help waar hulle kan en daarvoor is ons hulle ewig dankbaar. Baie dankie aan almal wat gehelp het om diere te red.”





