Toe Dora Rhodes, ’n fabriekswerker in Bellville-Suid, die oproep kry dat sy ’n motor gewen het, het sy eers gedink dis ’n slenter.
Sy kon nie onthou dat sy vir ’n kompetisie by Spar ingeskryf het nie en sy’t boonop nie eens ’n rybewys nie.
“Ek het my man gesê en hy het gesê ek’s mal,” lag Dora as sy terugdink.
Maar toe die mense van die Spar-winkelgroep begin praat oor al die dokumente wat sy nodig het, het die werklikheid stadig begin insink.
“Dit was vir my ‘n groot skok; ek kon dit nie glo nie.”
Dora is een van 60 mense landswyd en in Namibië wat ’n motor by Spar gewen het. Die kompetisie het vereis dat mense hul Spar-lojaliteitskaarte gebruik om inkopies te doen – iets wat sy altyd by haar plaaslike Kasselsvlei Spar doen.
Oorhandiging
Die medebestuurder van die betrokke Spar, Pierre Uys, het die sleutels van die splinternuwe wit Hyundai i20 aan haar oorhandig tydens ’n geleentheid verlede week by die supermark
Dora se gesin, haar man Kariem (45), en drie kinders, Keenen (24), Kim (19), en Kenrich (9), het die groot geleentheid bygewoon.
Nie een van hulle kan wettig bestuur nie en ’n familievriendin, Stacey Fellies, het die motor uit die winkel bestuur, met ’n glimlaggende Dora met ’n bos blomme op die agtersitplek.
Omliggende kopers het gejuig toe Fellies die toeter druk en verskeie het gesê hulle kan nie glo dat iemand van Bellville-Suid so ’n groot prys kan wen nie.
Die vreugdevure gaan nog lank brand in die woonstel in Glenhaven, waar almal buiten Keenen woon, asook by Falke se fabriek, waar Dora werk, en by Agrinet, waar Kariem as toesighouer werk.
Dora sê sy gaan nou binnekort leer bestuur.
Uys, medebestuurder van Kasselsvlei Spar, sê dis die eerste keer dat hierdie betrokke Spar so ’n groot prys kan uitdeel.
Hy is besonder trots op die feit dat dit een van die mense uit die plaaslike gemeenskap is wat die motor gewen het. Almal wat ingekom het, was bly vir haar onthalwe, sê hy.





