Die polisie het tydens die voorval ook op ’n pistool op beslag gelê.


Die Wes-Kaapse polisie sê twee voertuie wat as gekaap aangemeld is, is die afgelope naweek teruggevind. Een van die voertuie is na bewering in Parow gekaap.

Kapt. Frederick van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, sê lede van hul blitspatrollie was Sondag 25 Junie om 22:10 besig met patrolliewerk op die N1-snelweg toe hulle ’n Renault, wat vroeër in Parow gekaap is, gesien het. Die lede het versterkings versoek, waarna ’n jaagtog tussen die polisie en die verdagtes begin het. Die Renault is van Bellville tot by die Freedom Farm- informele nedersetting naby Delft agternagesit.

“Die verdagtes het op die polisie begin skiet en die polisie het teruggevuur. Die verdagtes het daarna die voertuig verlaat en te voet tussen die sinkhuise gevlug. Een van hulle het sy vuurwapen laat val.

“Die vier verdagtes het daarin geslaag om weg te kom en is nog soek,” sê Van Wyk.

Die polisie het op ’n 9-mm-Baretta-pistool met agt rondes beslag gelê.

Geen beserings of skade is tydens die voorval aangemeld nie, sê Van Wyk.

“Die polisie het op die gekaapte voertuig beslag gelê vir verdere ondersoek.”

’n Voertuig wat in Parow gekaap is, is onlangs deur die polisie teruggevind.

Lede van die polisie se Operation Restore het in ’n onverwante voorval daarin geslaag om nog drie verdagtes, wat ook in besit van ’n vermoedelik gekaapte voertuig was, in Mfuleni in hegtenis te neem. Die verdagtes is tussen 18 en 26 jaar oud.

Nog verdagtes is die naweek in Blue Downsweg, Kleinvlei, in hegtenis geneem nadat polisielede, wat ook in dié gebied met misdaadvoorkoming-patrollie besig was, hulle Saterdag 24 Junie om 23:30 raakgeloop het. Die voertuig is vroeër vandeesmaand gekaap.

Dié verdagtes het verlede Maandag in die Blue Downs-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article