Drie vermeende kapers se turf het die afgelope week lelik gesit toe hulle midde-in ’n klopjag beland het.
AO November Filander, ’n polisiewoordvoerder, sê verskeie eenhede van die polisie was die afgelope Saterdag besig met ’n groot optrede, Operation Restore, in die Mfuleni- en Blue Downs-omgewing toe hulle ’n oproep ontvang van ’n kaping wat pas in Kleinvlei plaasgevind het.
“Terwyl die beamptes in die Blue Downs-omgewing met patrollies besig was, het hulle oor die radio gehoor ’n motor is pas in Kleinvlei in Eersterivier gekaap. Met behulp van ’n opsporingsmaatskappy is die goudkleurige Toyota Corolla-motor in Blue Downs opgespoor. Drie mans tussen 17 en 27 jaar van Philippi is op die toneel in hegtenis geneem,” sê Filander.
Hy sê Operation Restore was oor die algemeen ’n reusesukses.
“Die optrede was gemik op die omgewing van Mfuleni, wat as die ‘Car Wash’ bekend staan. Hierdie omgewing is bekend as ’n misdaadbrandpunt en tydens voetpatrollies is verskeie onwettige aktiwiteite gestuit. Verskeie onwettige ondernemings is ook toegemaak en een verdagte is in hegtenis geneem,” sê Filander.
Filander sê alkoholmisbruik is een van die grootste drywers van misdaad.
“Alkoholmisbruik lei daartoe dat mense se gedrag verander, en dit lei baie keer tot misdadige aktiwiteite. Wanneer baie mense saam drink, lei dit tot geweld. Huishoudelike geweld, openbare wangedrag, eiendomsbeskadiging en dronkbestuur is van die goed wat gebeur wanneer mense oormatig drink,” sê hy.





