’n Sinkgat in Belhar, wat tot groot probleme en skade aan motors gelei het, is uiteindelik toe.
Die gat, wat veroorsaak is toe ’n ondergrondse pyp gebars het, het groot konsternasie veroorsaak.
Benita Neethling, ’n inwoner van Belhar, sê ’n ondergrondse pyp het ’n ruk gelede gebars en ’n reusagtige sinkgat veroorsaak. Nie net was die gat so groot dat hulle hul motor op ’n sekere manier moes ry om uit die agterplaas te kon kom nie, maar twee motors het al in die gat ingery.
“Toe die pyp bars, het werkers van die Stad Kaapstad sand daarin gegooi. Met die afgelope weke se reën het die sand al weer begin uitspoel,” sê Neethling.
“Die gat was baie gevaarlik en ek was bevrees dat iemand eers moet sterf voordat aandag aan die probleem gegee sou word.”
Volgens haar het sy verskeie kere al die Stad gekontak en ook met die plaaslike raadslid kontak gemaak.
Sedert TygerBurger met Neethling gepraat het, is die gat toegemaak.
TygerBurger het met die raadslid, Johanna Martlow, oor die gat gepraat.
“Van my kant af het ek alles in my vermoë gedoen om die gat toe te kry en ek het die huiseienaars heeltyd ingelig oor wat aangaan. Ek wil nie in ’n moddergooiery betrokke raak nie, want die gat is nou toe. Ek het uiteindelik met die huiseienaar gepraat en ons is op goeie voet uitmekaar,” sê Martlow.
Sy het ook vir TygerBurger ’n foto gestuur as bewys dat die gat toe is.





