Die Tygerberg SDA Baanbrekers het op Saterdag 17 Junie ’n uitreik na Jabulani-Jubileum-aftreeoord gehou.
Morne Louw, hoof van die Tygerberg SDA Baanbrekers, sê hulle het gevoel dis nodig om oor die ouderdomsgrens te kuier en om oud en jonk met mekaar te laat gesels.
“Die jongmense het ook hul eie oupas en oumas genooi om saam te kuier. Ons het saam gesing, gelag en sommer net lekker gesels,” vertel Morne.
Hy sê “ ’n warrelwindtoer deur die Bybel het ons laat besef hoe fantasties die Bybel is om oud en jonk deel te laat voel van God se liefde vir ons as mens”.
Linda Louw, ’n inwoner van die aftree-oord, sê die interaksie tussen jonk en oud is wat hierdie uitreiking so besonders gemaak het.
“Dit is belangrik vir jonger mense om ouer mense te verstaan, en anders om,” verduidelik Louw.
Louw vertel ook dat die aftreeoord altyd verskillende gebeure het wat plaasvind, soos gassprekers en musikante wat kom optree, maar daar is dikwels min interaksie.
“Hierdie keer was dit anders; ons het nog nooit sulke interaksie ontvang waar jy selfs uitvind vandag se kinders weet nie wat die speletjie bok bok is nie,” lag Louw.
Die lekkernye ná die tyd het almal aan die praat gehad.
“Dit was besonders,” sê Louw.
Volgens Morne, die hoof van die Tygerberg SDA Baanbrekers, sien hulle baie daarna uit om weer by die Jabulani-Jubileum-aftreeoord te gaan kuier.





