Inwoners van ’n straat in die Fountain Village-woonbuurt naby Blue Downs is moedeloos omdat hulle reeds sedert verlede Dinsdag sonder krag in hul huise sit.
Inwoners moes al duisende rande se kos weggooi omdat dit sleg geraak het, maar oral waar hulle om hulp aanklop, kom hulle voor dooiemansdeur.
Mauretta Dolman, ’n inwoner, sê alles het begin toe ’n kragboks in hul straat uitgebrand het.
“Tegnici het gekom en ek weet nie wat hulle gedoen het nie, maar die krag het weer vir ’n rukkie aangegaan. Hulle wou toe hê almal in die straat moes beëdigde verklarings aflê oor hoekom die boks gebrand het, maar niemand het nie. Ons het hulle vertel dat die boks voor die tyd al beskadig was en dat ons hulle laat weet het om dit te kom regmaak. Die boks was ’n gevaar vir die kinders wat in die straat speel,” sê Dolman.
Sy hou vol dat die onderbreking en hul ongerief voor Eskom se deur gelê moet word.
“Almal in die straat het al klagtes ingedien en elke keer kry ons net verwysingsnommers. Ons is al in die tweede week van geen krag nie en niemand weet wanneer dit sal aangaan nie,” sê Dolman.
Dolman was Maandag weer by Eskom se kantore, maar steeds het sy geen hulp ontvang nie.
“Ek weet regtig nou nie meer wat om te doen nie, want hulle het my ’n verwysingsnommer gegee. Ons almal in die straat het al verskeie verwysingsnommers en ons weet nie wat om daarmee te doen nie, want niemand kom om ons probleem op te los nie,” sê Dolman.
TygerBurger het ’n navraag aan Eskom gerig oor hoekom die buurt steeds nie krag het nie.
’n Eskom-woordvoerder het bevestig die verwysingsnommers van die gemeenskap is geldig, maar TygerBurger het teen druktyd geen verdere terugvoer oor die klagtes ontvang nie.





