’n Man wat vroeër jare ’n Lamborghini-handelaar hof toe geneem het omdat die kar wat hy bestel het glo die verkeerde tipe blou was, is in ’n ander saak op bedrog skuldig bevind en verlede week in die Bellville-handelshof gevonnis.
Ridwaan Rajah (47), eienaar van die maatskappy Good Hope Plasterers, het in 2017 opskrifte gehaal nadat hy die motorhandelaar Imperial Collection hof toe gesleep het omdat sy Lamborghini Huracan Spyder van R5,6 miljoen glo die verkeerde bloukleur was.
Sy pa, Ismail, was ook in 2022 in die nuus, toe hy in Parow ontvoer en vir meer as 100 dae aangehou is voordat hy vrygelaat is.
Jare voor hierdie insidente het die departement van openbare werke ’n tender aan Rajah toegestaan sodat hy die gebied rondom die parlement kon opknap.
In ’n verklaring, sê lt.kol. Siyabulela Vukubi, die Valke se woordvoerder, die departement het ’n voorlegging gedoen om die finale bedrag van R10,8 miljoen te betaal.
“Dit is nie aanvaar nie.”
Rajah het die departement hof toe gesleep en geëeis dat ’n bykomende R500 000 aan hom betaal moet word, sodat dit glo aan ’n subkontrakteur, Winlite Aluminium and Doors, betaal kon word.
Vukubi sê egter Rajah het met opset verkeerde syfers neergeskryf.
Die hof het Rajah se eis toegestaan en die departement moes die R500 000 terugbetaal.Dit het toe later aan die lig gekom dat Rajah R51 903 teruggehou het en nie aan die subkontrakteur betaal het nie.
Die Valke het die saak in 2019 begin ondersoek, waarna dit uiteindelik in die Bellville-handelshof gedien het, waar Rajah verlede Maandag gevonnis is.
Hy is op ’n aanklag van diefstal tot ses jaar tronkstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is, asook 12 maande tronkstraf op ’n aanklag van meineed, wat vir vyf jaar opgeskort is.
Rajah se maatskappy, Good Hope Plasterers, is met R200 000 geboet, wat ook vir vyf jaar opgeskort is.





