Vriende en familie van ’n man van Belhar soek naarstigtelik na hom nadat hy voorverlede week soos ’n groot speld verdwyn het.
Volgens die polisie het David James Moodley die nag van 4 Julie sy huis verlaat en nooit weer teruggekeer nie.
Sy motor met sy persoonlike besittings, waaronder sy beursie, selfoon en skootrekenaar, is later by Llandudno gevind.
Die ondersoekbeampte, sers. Thembelani Vumazonke, sê niks omtrent die verdwyning maak sin nie.
“Moodley het glo net nadat hy en sy vrou die kind in die bed gesit het opgestaan, uitgestap en weggery. Hy het nog slaapklere aangehad. ’n Ondersoek op sy GPS het gewys dat hy eers by ’n vulstasie gestop het, waarna die motor na Llandudno is. Dit is daar gevind,” sê Vumazonke.
Vumazonke sê verder dit lyk nie of iets uit die motor verwyder is nie.
“Al sy besittings was nog daar. Ons weet regtig nie wat om te dink nie. Daar is soveel vrae en bitter min antwoorde. Hoe kan iemand net wil opstaan en verdwyn?” wil Vumazonke weet.
Hy het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om met inligting na vore te kom.
“Al dink jy ook dit is hoe onbenullig, laat weet die polisie. Dit kan ons help om die saak op te los,” sê hy.





