Een sterf in gru-ongeluk op Bottelarypad in Brackenfell

Die toneel van die ongeluk waarin vyf voertuie Maandag omstreeks 07:00 op die Bottelarypad betrokke was. Foto: Verskaf


Een vrou is dood en nog twee mense ernstig beseer in ’n kop-aan-kop-kettingbotsing op die Bottelarypad net ná sewe Maandagoggend.

Volgens beskikbare inligting was vyf motors in die botsing wat 800 m voor die Palms Restaurant na Brackenfell se kant plaasgevind het. 

“Toe ons op die toneel kom, was die vrou vasgepen in die motor en moes ons haar uitsny, maar sy was reeds dood. Die vroulike passasier wat agter in die motor aangetref is, het ernstige beserings opgedoen, asook die man in die ander voertuig en is na die Mediclinic Cape Gate- en Stellenbosch- provinsiale hospitaal vervoer. Die mense in die ander voertuie, wat blykbaar in die botsing vasgery het, het ligte beserings opgedoen,” sê ‘n paramedikus, Kobus Kotze van Titanium-ambulansdienste.

Die pad is aan albei kante toegemaak en verkeer is herlei deur Wallacedene en Brackenfell. Die pad was teen 09:45 Maandag nog toe. 

Owerhede was op die toneel om nadere ondersoek in te stel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article