Wenner van skryfkompetisies, geskiedenis-olimpiades, kitaaruitvoerings, hokkiewedstryde, skaakspelle en nou ook junior burgemeester.
Dirk Hagen, bes moontlik een van die veelsydigste leerders aan die Hoërskool DF Malan, is die naweek amptelik in sy pos aangestel. Hy sal saam met talle ander graad 10- en 11-leerders op die junior stadsraad van Stad Kaapstad dien.
Die leerders het almal Saterdag by die Stad se munisipale gebou hul nuwe leiers gekies, wat vir hul rolle genomineer moes word en hulself daarna kon bemark.
Die onafhanklike verkiesingskomitee (OVK) het oorsig gehou.
Die volgende leerders is ook as uitvoerende komiteelede aangestel: Fayhaa Khalil (junior onderburgemeester, Graad 10, Abbots College Rondebosch); Teagan Bender (junior speaker, graad 11, False Bay High School) en Hlumelo Jeke (junior hoofsweep, graad 11, Athlone High School).
Die junior stadsraad word deur die kantoor van Felicity Purchase, die Stad se speaker, bestuur. Donovan Nelson, ’n raadslid, is as beskermheer aangestel.
Uitblinker
Dirk, ’n graad 11-leerder, het al voorheen die nuus gehaal juis omdat hy so veelsydig is (“Dirk blink uit in alles wat hy aanpak”, TygerBurger 19 Desember 2021).
Hy was met die skryf van daardie berig in graad 9 en het toe al vele olimpiades, skryfkompetisies en eisteddfods op nasionale vlak gewen. Hy het ook toe al in binnenshuise en gewone hokkie uitgeblink tot ’n voetbesering.
Boonop het hy aan die Suid-Afrikaanse uitdunne vir skaak deelgeneem en het hy telkemale die eerste plek akademies behaal. Sy sukses is weens goeie beplanning en ’n goeie ondersteuningsnetwerk, het hy gesê. Sy ouers is DJ, ’n siviele ingenieur, en Genie, ’n rekenmeester. Hy het ’n jonger suster, Sophia.





