Van links is Nadeemah Thomas, Chané Standaar en Cumani Peter, almal van Rawson Kuilsrivier.FOTO’s: Carina Roux


’n Plaaslike eiendomsagentskap het hom daartoe verbind om maandeliks ’n bydrae tot Aksie Samaritaan se sopkombuis naby die Kuilsrivier-stasie te maak.

Ernst Vorndran, voorsitter van Aksie Samaritaan, ’n organisasie sonder winsbejag, sê daar is sewe kerkgroepe wat die sopkombuis al jare aan die gang hou met sowat 200 mense in die gemeenskap wat op rotasiegrondslag sop by hul huise kook.

Die sopkombuis voorsien Maandag tot Vrydag tussen 12:00 en 13:00 aan tussen 60 en 100 behoeftige mense sop en brood.

Op Sondae word ’n kerkdiens gehou en ’n gekookte maaltyd gegee.

Die hande (en beursies) wat help, word egter minder, want mense word ouer en daar kom nie so baie jongmense by nie, sê Vorndran.

Rawson Kuilsrivier is die eerste sakeonderneming wat nou kom hand bysit. Noelene Snyder, konsessiehouer van Rawson Kuilsrivier, en haar span eiendomsagente het verlede Woensdag (26 Julie) hul eerste beurt waargeneem om sop en brood te verskaf.

Hulle sal dit voortaan op die vierde Woensdag van elke maand doen.

Die agente het gehelp om die sop in bekers te skink, dit uitgepak op die tafels en ook gehelp om die brood en sop uit te deel aan sowat 78 mense wat Woensdag opgedaag het.

Vorndran sê die aantal mense wat ’n maaltyd by die sopkombuis kom kry raak duidelik meer kort voordat die maandelikse Sassa-uitbetalings gemaak word.

“Rawson gaan dus elke keer baie mense kry.”

Snyder sê dit is reg met hulle. “Ons wil graag uit ons hart gee.”

Die nood daar buite is duidelik groot. Vorndran sê hulle sal graag wil sien dat nog sakeondernemings by die sopkombuis betrokke raak.

Aksie Samaritaan het 18A-status en kan dus belastingsertifikate uitreik vir uitgawes aangegaan, sê Vorndran.

Kontak Vorndran by 083 658 6860 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article