Leigh-Anne Hill, skrywer van Goodwood, vertel ons bietjie meer oor wat sy beplan vir die res van die jaar.
Volgens Hill is daar baie in die vooruitsig vir haar en haar beroep. Sy het op 3 Februarie voortydig aan ’n babadogtertjie die lewe geskenk. Met klein Faith se geboorte was daar groot moontlikhede dat sy Downsindroom sou hê. Dit was ’n tydperk wat sy geen moeder wil toewens nie.
“Dit gaan nou baie goed met Faith; sy word in Augustus ses maande oud – net die mooiste ou poppietjie met geen gesondheidsprobleme nie,” sê Hill.
“My lewe is vir seker met baie rykdom gevul, rykdom wat geld nie kan koop nie – met familie, liefde en vriende wat familie geword het,” verduidelik sy.
Weens Faith se voortydige geboorte is die skrywer nou redelik betrokke by bewusmakingsveldtogte oor voortydige geboortes.
In November gaan sy ’n galageleentheid bywoon om bewusmaking te skep oor vroeggebore babas vir die Tygerberg-hospitaal se Kindertrust. Sy gaan ook ’n galageleentheid bywoon in Pretoria ook om bewusmaking te skep oor vroeggebore babas.
In haar beroep as skrywer en uitgewer meen Hill gaan sy ’n hele paar boeke bekend stel.
Hill vertel sy is tans besig om haar sestiende boek te publiseer.
Haar nuutste boek gaan binnekort in boekwinkels beskikbaar wees.
Kontak Hill by 066 206 4208 met navrae oor haar boeke.





