Die gedenk-brief vir Margo Slabbert (55) wat onlangs in Bothasig vermoor is.

Credit: SYSTEM

’n Man van Bothasig het gister vir ’n tweede keer in die Goodwood-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Arno Slabbert (27) staan tereg op aanklag van moord nadat hy glo sy ma, Margo, vermoor het.

Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n moordsaak ondersoek word nadat die lyk van ’n 55-jarige vrou by haar huis in Bothasig gevind is. Die oorledene het in die Bothasig Gardens-behuisingskompleks gewoon.

“Die slagoffer se keel is gesny. Die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek,” het hy gesê.

Hy het ook bevestig dat ’n man in hegtenis geneem is in verband met die moord en daarvan aangekla word.

Die Bothasig-polisie sê die verdagte is eers deur plaaslike privaat sekerheidsbeamptes aangekeer, waarna hy aan die polisie oorhandig is.

“Die verdagte het ons tot by die misdaadtoneel vergesel, waar die lyk van ’n vrou gevind is.

“Die verdagte is aangekeer en is by die Bothasig-polisiekantoor aangehou. Die slagoffer is op die toneel deur paramedici dood verklaar,” sê ’n woordvoerder.

Die saak is oorspronklik tot gister uitgestel vir ’n borgtog-aansoek. Die ondersoek duur voort.

’n Gedenkdiens is verlede Donderdag 3 Augustus om 10:00 vir die oorledene in die behuisingskompleks se saal gehou.

Inwoners van die gebied het versoek dat mense verversings skenk vir die geleentheid en vir die gesin in nood. Tee, koffie, melk en suiker is van die goed wat versoek is.

Miquette Temlett, wyksraadslid, het aan TygerBurgergesê sy is geskok en hartseer oor die tragiese voorval.

“As wyksraadslid werk ek nóú saam met die gemeenskap se veiligheidsgroepe, sowel as die polisie, om te verseker dat die gemeenskap veilig is.

Tekort aan personeel

“Ongelukkig het die polisie ’n geweldige tekort aan hulpbronne en ervaar hulle ’n tekort aan personeel. Die gebied wat hulle moet bedien, is baie groot.

“Sedert ek as raadslid verkies is, het ek verskeie kere probeer om met die bestuur van die kompleks te vergader om te praat oor die kwessies en die probleme wat die inwoners daar, sowel as in die breër woongebied, ervaar, maar het nog geen terugvoering ontvang nie,” sê Temlett.

Sy het haar medelye met Margo se familie betuig.

“Hulle het my diepste simpatie en ondersteuning. Ek wil die familie net vrede, gemak, moed en baie liefde toewens in hul verdriet. My hart gaan uit aan die hele gemeenskap,” sê Temlett.

Die Bothasig-belastingbetalersvereniging se komitee het ook sy medelye uitgespreek.

“Bothasig Gardens is deel van Bothasig en as ons nie aktief ’n belangstelling toon of help waar ons kan nie, sal al die huidige kwessies waarmee Bothasig Gardens worstel, soos dwelms, mishandeling en bendes, oorspoel na ander gebiede in Bothasig,” lui ’n inskrywing op hul sosialemedia-blad.

Die vereniging het ook ’n vergadering met die kompleks se bestuur versoek. Hulle het ook aangedui dat hulle die kwessies met die relevante owerhede sal bespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article