Polisie benodig Kuilsrivier-gemeenskap se hulp teen gesinsgeweld.

Verskaf

Geweld tussen gesinslede gebeur meestal binne-in mense se huise.

Omdat gesinsgeweld nie gepolisieer kan word nie, benodig die polisie Jan en San Alleman se hulp om die misdaad, wat ’n stygende tendens toon, te bekamp.

“Die meeste van hierdie voorvalle gebeur agter geslote deure, binne-in wonings, en dit word nie altyd aangemeld nie,” sê sers. Nicky Willemse, slagoffer-koördineerder van die Kuilsrivier-polisie.

“Ons wil uitreik na die gemeenskap. As hulle bewus word van enige vorm van gesinsgeweld – miskien hoor jy ’n bakleiery by die bure – bel die polisie sodat ons ’n voertuig kan uitstuur.”

Willemse sê hulle wil mense die versekering gee dat hulle anoniem kan bly as hul inskakel om ’n voorval aan te meld. Jy hoef nie jou naam of enige persoonlike details te gee nie. “As die gemeenskap ons aan die hand vat, sal gesinsgeweld afneem.”

Die plaaslike polisie het ook ’n slagoffer-ondersteuningsprogram (VEP) met vrywillige beraders wat kan gesels met diegene wat deur gesins- of geslagsgeweld geraak is. Hulle kan ook verwysings doen vir verdere hulp.

Willemse sê enigeen met navrae oor gesins- of geslagsgeweld, of die slagoffer van enige misdaad was en berading benodig, is welkom om haar te kontak.

Skakel sers. Nicky Willemse by 021 900 2816.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article