Die polisie se misdaadsyfers vir die tydperk van 1 April tot 30 Junie, wat onlangs bekend gemaak is, toon dat die Kuilsrivier-polisie die meeste seksuele oortredings vir die ooreenstemmende kwartaal in vyf jaar aangeteken het.
Altesame 20 sake is geregistreer, wat 14 verkragtings insluit, teenoor agt (sewe verkragtings) ’n jaar gelede en 12 (agt verkragtings) tussen Januarie en Maart vanjaar.
Twee meer sake van kontakmisdaad, wat moord, poging tot moord, seksuele oortredings, aanranding en roof insluit, is aangemeld (265) teenoor ’n jaar gelede (263). In die eerste drie maande vanjaar is 331 kontakmisdade plaaslik geregistreer. Die Kuilsrivier-polisie het in die kwartaal vyf moorde (soos in 2022) aangeteken en 13 pogings tot moord (16 in 2022). In die eerste drie maande vanjaar was daar sewe moorde en 15 pogings tot moord.
Huisbrake
Huisrooftogte het in die kwartaal, vergeleke met ’n jaar gelede, verdubbel van ses na 12. In 2019, voor die pandemie, was daar in dié tydperk 15 huisrooftogte. Tydens die pandemie in 2020 (vier), 2021 (agt) en 2022 (ses), was dit minder as 10.
Daarteenoor het rooftogte by sakepersele afgeneem van 12 na ses in dieselfde tydperk verlede jaar en sewe in die eerste drie maande vanjaar. Vyf voertuigkapings is aangeteken.
Slegs een voorval van brandstigting is in Kuilsrivier aangemeld, maar die 93 sake van kwaadwillige beskadiging van eiendom is die meeste vir die kwartaal in vyf jaar.
Inbrake by huise toon ’n soortgelyke patroon as huisrooftogte. In 2019 (voor die pandemie) was daar 161 en in 2020 (tydens inperking) 58 sake. Vanjaar was daar in die tydperk 107 huisbrake – presies dieselfde as tussen Januarie en Maart.
Tussen April en Junie was daar 26 inbrake by sakepersele – dieselfde as ’n jaar gelede en een minder as in die eerste drie maande vanjaar (27).
Voertuigdiefstal (19) was die laagste vir die kwartaal in vyf jaar terwyl 59 sake van diefstal vanuit of vanaf voertuie plaaslik aangemeld is.
Kommersiële misdaad (60 na 85 sake) en winkeldiefstal (44 na 65) het met meer as 40% toegeneem teenoor ’n jaar gelede met die meeste sake wat in vyf jaar aangeteken is.
Die Kuilsrivier-polisie toon ’n groot toename in sake wat geregistreer is, danksy polisie-optrede met 243 dwelmverwante sake wat in die tydperk aangeteken is teenoor 109 ’n jaar gelede.
Agt sake is aangeteken vir die onwettige besit van ’n vuurwapen of ammunisie, en 34 vir bestuur onder die invloed van drank of dwelms.
Die polisie het 244 ontvoerings in die provinsie tussen April en Junie geregistreer, waarvan 187 in die metro was. In Kuilsrivier was daar drie ontvoerings teenoor vier ’n jaar gelede, en twee in die eerste drie maande vanjaar. TygerBurger het onlangs berig oor die ontvoering van ’n sakeman by die Digtebij Supermark op 26 Julie (“Man rescued”, 02/08).





