Die hoofrugbyveld was die afgelope seisoen onspeelbaar.


Die rugby- en krieketvelde by die Brackenfell-sportklub is heel seisoen lank al ’n modderige papperasie waarop spelers skaars kan speel, en dít as gevolg van ’n verstopte stormwaterpyp onder die N1-snelweg langs die klub.

Verskeie rugbywedstryde is die seisoen op ander velde gespeel en spelers was genoodsaak om op ander velde te oefen.

Met die krieketseisoen op hande, is daar bekommernisse oor of die veld betyds speelbaar gaan wees.

“Die velde is deurdrenk met water en die grond sak onder jou voete weg. Met vanjaar se hoë reënval het die watervlakke nog meer gestyg. Hoe kan hier gespeel word?” vra Kobus Bredell, wat betrokke is by die klubs.

Volgens ’n baie ontstigte Bredell het hy die verstopte drein sedert verlede jaar al verskeie kere aan die owerhede gerapporteer. “Maar, nadat klagtes op dowe ore geval het, is die drein verlede jaar teen ’n koste van R5 000 deur die klublede self skoongemaak,” sê hy.

Ook die teerpad en parkeergebied het as gevolg van die water begin insak en sal teen hoë koste vir die belastingbetaler herstel moet word.

“Dit gaan oor die gebrek aan dienslewering. Ek het met soveel mense gepraat oor die probleem. In Junie het ’n beampte van die sport-en-rekreasie-departement na die veld kom kyk, maar niks is gedoen nie. Toe kry ek verlede week ’n oproep van ’n amptenaar wat vra ‘wat is die probleem?’” sê hy.

“Wat help dit dat hy ons eers ná die rugbyseisoen terugbel en dan wil weet wat die probleem is?” vra hy.

Is glo gediens

TygerBurger het die Stad Kaapstad oor die kwessie genader.

Volgens ’n woordvoerder van die Stad is die stormwaterdrein in die 2022-’2023-boekjaar gediens. “Oorstromings het egter voortgeduur en planne is nou in plek om die drein oor die volgende twee maande te herstel. Die pad- en parkeergebied sal eers reggemaak kan word nadat die water verwyder is en die oppervlak uitgedroog het. Dit sal in die somerseisoen gedoen word,” sê die woordvoerder.

Die presiese tydlyn van die herstelwerk sal bekend gemaak word sodra ’n kontrakteur aangestel is. “Die speelvelde sal middel September, ná die rugbyseisoen, gerehabiliteer word om speelbaar te wees vir die volgende seisoen,” sê die woordvoerder.

In antwoord op hoekom daar nie verlede jaar gehoor gegee is aan die klagtes nie, meld die Stad “dat die klagtes wel erken is; daarom is daar nou planne in plek gestel vir die herstelwerk”. “Hulle is glad nie haastig nie, nè?” sê Bredell.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article