Ter Illustrasie


Met ’n sirkulasie van sowat 25 000 items per maand is die Brackenfell- biblioteek die besigste in die ganse Kaapstad.

In die vorige boekjaar – van Julie 2022 tot Junie 2023 – het die biblioteek 309 448 items oor die toonbank aan altesaam 4 372 geregistreerde lede uitgeleen.

En, met behulp van e-bronne is meer as 4 000 e-boeke uitgeleen – byna 3 000 items meer as die vorige jaar.

Volwassene-boeke is die grootste persentasie items wat geleen word, waarvan 32% Afrikaans en 25% Engels.

“Plaaslike misdaadskrywers soos Rudie van Rensburg en Deon Meyer bly verreweg van die gewildste Afrikaanse skrywers en Lee Child, David Baldacci and Nora Roberts is bo-aan die Engelse lys,” sê Sunell Lotter, hoof- bibliotekaresse by die Brackenfell-biblioteek.

Op die kinderrakke is boeke deur Jaco Jacobs en die reeks Diary of a Wimpy Kid, sowel as boeke oor Minecraft en Lego baie gewild. Sowat 30% van die items wat uitgeleen is, was storieboeke in die kinderafdeling waar die kinders 12 jaar en jonger items uitneem.

Oop tydens beurtkrag

Selfs tydens beurtkrag en sonder ’n kragopwekker bly die biblioteek oop vir gebruikers om deur die rakke te snuffel en boeke uit te neem.

“Tydens beurtkrag is die diens ietwat stadiger met minder toegangspunte, maar items kan steeds soos gewoonlik geleen, hernu en ingehandig word.”

Volgens Lotter is sowat 32% van die biblioteek se lesers oor 60 jaar en 42% is 12 jaar en jonger. Die oorblywende lesers is óf tieners óf volwassenes.

Daarbenewens het sowat 830 volwassenes en 490 kinders in die afgelope jaar by die biblioteek aangesluit.

Lidmaatskap is gratis en nuwe gebruikers kan onmiddellik leen solank hulle bewys van identifikasie en ’n woonadres kan verskaf.

“Met 99 200 items op die rakke is daar ‘n wye verskeidenheid klassieke, chick lit en topverkopers om uit te kies. ’n Biblioteekkaart gee kliënte ook toegang tot elektroniese materiaal wat vanuit die gemak van die huis afgelaai kan word,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article