Skok en verontwaardiging heers steeds nadat ’n perd onlangs geboorte geskenk het terwyl sy besig was om ’n perdekar te trek met mense en goedere daarop.
Die voorval het in Blue Downs plaasgevind. Bekommerde inwoners het die Society for the Prevention of Cruelty to Animals (SPCA) en wetstoepassers gebel.
Toe wetstoepassers op die toneel kom, het die merrie en die vul op die sypaadjie gestaan. Die nageboorte van die merrie het nog op die sypaadjie gelê.
Belinda Abraham, woordvoerder van die SPCA, sê hulle is dankbaar dat deernisvolle mense die nood van die dier gesien en hulle gekontak het, en hoop dat die beskuldigdes swaar gestraf word.
“Ingevolge die Dierebeskermingswet 71 van 1962 en die plaaslike verordeninge met die betrekking tot die aanhou van diere is dit onwettig om enige dier wat nie geskik is vir werk nie, toe te laat om te werk. Dit sluit in om swaar dragtige diere aan die werk te sit,” sê Abraham.
Volgens Abraham sal die eienaars nou strafregtelike klagte in die gesig staar.
“Daar is op beide die merrie en haar vul, asook die perdekar, beslag gelê. Die diere is in die sorg van die Kaap die Goeie Hoop Dierebeskermingsvereniging se perdesorgeenheid geplaas. Die merrie en haar vul, wat nou Stella en Rose genoem word, sterk by ons fasiliteite aan,” sê Abrahams.
Sy sê dit is belangrik om daarop te let dat die verdagtes probeer het om die perdekar vir die DBV-inspekteurs weg te steek in ‘n poging om die feit te verdoesel dat die merrie gewerk het tydens kraam of kort voor geboorte.
“As hulle aan dieremishandeling skuldig bevind word, kan ‘n boete van R40 000 of 12 maande tronkstraf opgelê word,” sê Abraham.
Wayne Dyason, woordvoerder van die Stad Kaapstad, het bevestig dat die Stad se wetstoepassers betrokke was by die beslaglegging op die diere.





