Die Bellville-Suid gemeenskap is in rou gedompel ná twee voorvalle waarin jong mans Sondag gesterf het.
Die polisie kon nog steeds nie ’n lyk, wat vir ure by ’n winkelsentrum by die Bellville-stasie gelê het, identifiseer nie.
Sers. Wesley Twigg, provinsiale polisiewoordvoerder, kon nie bevestig of die man op die Tienie Meyer-verbypad beroof is voordat hy by die brug afgeval het, of afgegooi is nie. Sy lyk het egter langs die Bellstar Junction-winkelsentrum gelê.
“Die slagoffer is deur ’n sekerheidswag gevind waar hy met ’n bloeiende kopwond gelê het,” sê Twigg.
Hy sê ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen om die oorsaak van sy dood bepaal.
Die man het ’n swart broek en blou baadjie gedra. Hy het geen skoene aangehad nie. Dit is nog onseker of dit in die voorval gesteel is.
Die stasie word tradisioneel as die skeiding tussen Bellville en Bellville-Suid gesien, maar val onder die Bellville-polisie se patrolleringsgebied.
Inwoners het vir ure op sosiale media bespiegel dat die man van Bellville-Suid is en op pad werk toe was. Dit kon egter nie bevestig word nie.
“Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” sê Emre Uygun, voorsitter van die Bellville-gemeenskapspolisiëringsforum.
Leerder doodgesteek
In ’n ander voorval is Ethan Abrahams, ’n graad 10-leerder aan die Hoërskool Kasselsvlei, Sondag met ’n mes in Belhar doodgesteek.
Abrahams, ’n kranige rugbyspeler, was oorspronklik van Delft.





