Om te lees moet ’n gewoonte wees soos om elke dag water te drink, sê Latifah Jacobs van Aurorah Kuils River CAN, ’n organisasie sonder winsbejag in Sunbirdpark.
Jacobs, wat sedert die pandemie ’n voedingskema vanaf haar huis bedryf en ook ander sopkombuise met donasies ondersteun, het verlede jaar op Mandeladag die Aurorah-biblioteek in ’n skeepshouer langs haar huis oopgemaak.
Verlede week was Jacobs saam met ’n handvol openbare biblioteke onder die genomineerdes in die kategorie “Belangrike bydrae tot die ontwikkeling en bevordering van lees en geletterdheid” van die Wes-Kaapse departement kultuursake se kulturele toekennings. Die D’Almeida-biblioteek in Mosselbaai is as wenner aangewys.
Jacobs sê sy self is eintlik baie lui vir lees maar het uit haar foute geleer. “Ek het ’n reël in my huis; ek en my meisiekind lees ’n uur elke dag.”
Sy wil lees aanmoedig sodat dit ’n gewoonte kan raak.
“Ek kan nie kinders aanmoedig om universiteit of kollege toe te gaan en ek berei hulle nie voor vir wat wag nie.”
Sy sien hoe kinders wat verder wil gaan studeer nog nie met begrip kan lees of die konteks van woorde behoorlik verstaan nie.
“Ek voel sterk lees is ’n fondament. As dit kom by armoedeverligting of om armoede te beperk, dan is opvoeding die sleutel. Dis jou enigste pad uit. Tensy jy die Lotto wen, maar as jy ongeletterd is, gaan jy ook nie weet hoe om die geld te hanteer nie.”
In die pandemie-tyd het Jacobs opgelet dat die kinders van Happy Valley wat na die sopkombuis toe gekom het, nie met hul skoolwerk kon byhou nie.
“Hulle het nie die ondervinding gehad van ‘my juffrou kan vir my ma op WhatsApp ’n boodskap stuur’ en dan gaan die skoolwerk aan nie. Ek het opgelet dat daar niks vir die kinders was om te doen nie.”
Die idee om ’n biblioteek te begin, het begin vorm kry toe hulle vakansieprogramme aangebied het om die kinders besig te hou.
Jacobs sê sy het agtergekom daar was kinders van tot 13 jaar wat nie hul eie naam reg kon spel nie. Sy het geweet sy sal iets moet doen.
Van die ouer besoekers aan die sopkombuis wat haar twee boekrakke raakgesien het, wou soms ook by haar weet of hulle ’n boek kon leen.
Haar twee boekrakke en boeke staan nou langs al die ander rakke in die hoek van die mini-biblioteek.
Toeganklik
Om die biblioteek in die buurt te hê, gaan vir Jacobs oor opvoeding en om toegang tot boeke te vergemaklik – vir jonk en oud. Die openbare biblioteke in Sarepta en Kuilsrivier is vir baie ’n taxi-rit te ver.
Die skeepshouer, wat deur ’n buitelandse maatskappy geskenk is, het met die hulp van vriende en ander wat die inisiatief ondersteun het, vensters, ’n plafon en rakke vol boeke gekry.
Jacobs sê daar is gereeld nuwe gesigte wat die biblioteek besoek.
“Dit is nie elke maand of elke dag dieselfde kinders wat kom nie. Met eksamentyd maak ons die biblioteek self oor die naweek oop vir die matrikulante om te kom sit en te studeer, om ’n bietjie stilte te hê.”
Die wat kom, kry ook iets om te eet. Sy sê daar is heelwat buitelanders onder die matrikulante wat daarheen kom. “Hulle is maar altyd honger as hulle kom, maar hulle sal nie sommer vra nie. Ons help met ’n toebroodjie of so.”
’n Groep van sowat 10 leerders, van graad 9 tot 12, het Dinsdae en Donderdae ’n klas waar hulle op hul fone gratis aanlyn bystand kry van Levi Daniels, wat leerondersteuning bied, vertel Jacobs.
“Hy het eers kom kyk of hulle aanlyn kan klas kry. Die leerders stuur vir hom vooraf watter wiskunde-huiswerk hulle mee sukkel en hy werk dan met hulle daardeur.”
Jacobs sê tydens die skoolvakansie probeer hulle om drie dae in die week ’n vakansieprogram vir die kinders te hou met van ’n poppekas tot leesaktiwiteite. Hulle gebruik van die boeke, waarvan hulle verskeie eksemplare het, om die kinders opgewonde te maak oor lees, deurdat elkeen ’n gedeelte moet lees en daarvan moet vertel.
“Ons leer ook vir die kinders om respek vir mekaar en respek vir die boeke te hê.” Sy sê met die biblioteek se opening het ’n oom vir die kinders verduidelik die boeke is lewend en het gevoelens, so hulle moet mooi werk daarmee.
“Baie van ons kinders se ouers kom terug en sê die kinders se gedrag het verander. Hulle is nie meer so hostile nie,” sê Jacobs.
Aangesien daar nie ’n gemeenskapsaal naby is nie, het die biblioteek ook ’n plek geword waar groepe soos die buurtwag vergaderings kan hou, vertel Jacobs.
Sy nooi ook organisasies of diensverskaffers uit om inligting met mense te kom deel by die biblioteek – van hoe om ’n bankrekening oop te maak tot regshulp, geestesgesondheid of ander gesondheidsdienste.
“Claudia Roodt bied vir ons noodhulp en trauma-opleiding aan in vier sessies op Saterdae. Dis baie waardevolle opleiding vir maatskaplike werkers, onderwysers, en mense wat in die gemeenskap werk.”
Maak ’n verskil
As jy by die biblioteek ingaan, sien ‘n mens heel eerste die muur waar van die kinders se tekeninge en briefies opgeplak is. “Die kinders is baie opgewonde as hul goed vir ’n tydjie hier op die muur is,” sê Jacobs.
’n Kinderlik-eerlike dankie-sê-briefie in netjiese uitgeskryfde letters van ’n kind wat haar skooljaar goed afgesluit het, getuig van die verskil wat die biblioteek maak.
Die erkenning wat kom met toekennings (waarvan ’n paar ook teen die muur pryk) is welkom, maar dit is die opregte dankies wat Jacobs se hartsnare roer. “Nou die dag het een van die kinders by ons voedingsprogram vir my gesê: ‘Motjie is ’n regte blessing van die Here’. Dit is net die manier waarop hy dit gesê het; ek’t gesê, hy gaan maak dat ek tjank.”





