Elke Woensdagoggend is daar ’n gesellige “gegons” hoorbaar in die Blackheath-gemeenskapsaal waar die vroue van die Blackheath Seniorsklub bymekaar kom.
Dina Blatt, die klub se sekretaresse, sê dis gewoonlik so om en by 30 vroue wat kom – die “aktiewe groep”. Sy sê van hul lede met gesondheidsprobleme kom net per geleentheid – “as hulle so voel”.
“Ons open met gebed en dan doen ons eers so bietjie oefeninge.”
Diegene wat dalk bietjie onvas op die voete is, kan op ’n stoel sit en saam arms swaai of bene rek met die res van die groep, vertel Blatt.
Daar word lekker saam gekuier en “oor sake na aan die hart’’ gesels, en ook handwerk soos breiwerk en naaldwerk gedoen.
“Elke keer is daar drie mense wat iets vir die tee bring – versnaperings. Hier (by die saal) is geriewe vir tee beskikbaar; dis net die eetgoedjies wat die lede self maak en bring.”
Die klublede is almal afgetredenes, meestal van Austinville, Blackheath, Dennemere en Conifers.
Blatt sê die lede het in die verlede meer dikwels uitstappies gehad. “Vanjaar het ons so ’n lang, koue winter gehad. Dit het ons gestrem om uit te gaan.”
Vroeër, sê Blatt, kon die vroue op ’n Dinsdag gratis met die trein casino (GrandWest) toe gaan. “Nou is daar nie meer treine nie … of ons sou Waterfront, Kalkbaai of Kirstenbosch toe gaan.”
Die gebrekkige openbare vervoer bring uitdagings, verduidelik Blatt.
”Ons moet van hier af Kaap toe, en dan van daar weer Kalkbaai toe – almal se bene is nie so lekker nie (vir die) op en af. Vervoer is ’n probleem.”
Met hul jaareindgeselligheid verlede jaar het hulle ’n ‘‘flenterkonsert” gehou, “waar meeste van die lede iets opgevoer en almal opgedress het”, vertel Blatt.
Die klub vra ’n minimale ledegeld van R20 per maand.
“Daar is seniors wat dit nie kan bekostig nie, soos byvoorbeeld enkelouers, wat van ledegeld kwytgeskeld is.”
Blatt sê hulle skenk graag die handwerk wat die klublede maak.
Meer as die handwerk, lê die waarde van die klub in die sosiale omgang, gee Blatt toe.
“Ja, want jy sit alleen by die huis dalk, (en) voel nie so gelukkig nie – hierdie is ’n uitlaatklep, hier is iemand wat ’n oor kan wees.”
Voel tuis
Fransina Jafta, stigter van die Blackheath Seniorsklub, sê sy het aanvanklik in 2009 ’n samekoms vir seniors by haar huis begin hou. Sedert die klub in 2012 na die gemeenskapsaal verskuif het, het heelwat lede bygekom, sê Jafta. “Maar ons het ook al van ons seniors verloor.”
Die idee vir die klub het ontstaan nadat ’n bejaarde vrou wat sy onder ’n boom sien sit het, vir haar gesê het dit is “te bedrywig by die huis’’.
“Ek het besef die seniors wil nie net (heeltyd) saam met hul kinders en kleinkinders wees nie.”
Jafta was gemoeid met ’n seniorsgroep van ’n kerk, maar het agtergekom dat seniors wat nie lid van die kerk was nie, nie daar tuis gevoel het nie.
”Die klub gaan oor die sosiale samekoms. Die groep wat hier by die saal bymekaar kom, is van verskillende agtergronde. Hulle kom geniet dit saam, doen oefeninge wat help teen demensie. Hier is afgetrede verpleegsters, onderwysers, huisvroue …”
Jafta sê die vroue is baie kreatief. Magdalena Byl, ’n oud-Educare-onderwyser, is die kunstige een, wat die ander vroue allerhande handwerk leer.
“Sy is baie goed, sy kan als doen,” sê Jafta.
Soms word daar ook praatjies oor gesondheidsake gereël. “Ons werk nóú saam met tuisversorgers wat hul bloeddruk kom toets of hul voete versorg.”
Die klub bied aan die lede ’n geleentheid om ‘’te refresh van die huis”, sê sy. “Kom ontspan, kom drink ’n koppie tee saam.”
Jafta sê die klub kry of vra geen donasies nie. “Ons doen alles uit ons eie sakke.”
Onlangs het die lede blokkies vir ’n groot projek gebrei. “Die lede gaan koop hul eie wol. Ons skenk alles wat ons maak.”
Kontak die klubsekretaresse Dina Blatt via WhatsApp by 073 152 9747.





