Hoërskool DF Malan in Kaapstad se naam kan verander, sê hof

Die Hoërskool D.F. Malan. Foto: Adrian de Kock

Credit: SYSTEM

Die Hoërskool DF Malan kan voortgaan om sy naam na die DF Akademie te verander.

Dit kom nadat die hooggeregshof in Kaapstad Woensdag, 17 Oktober, beslis het die skool was deursigtig in die proses om die naam te hersien.

Die aansoek om dié proses te laat hersien, is met koste van die hand gewys.

Belanghebbendes wag al sedert Februarie vir die uitspraak nadat betoë toe afgehandel is.

Die saak spruit uit die skool se besluit om die naam te verander, onder meer ná sterk kritiek in 2020 vanaf  ’n drukgroep, #DFMustFall, ontvang is.

Die drukgroep en ander kritici meen die skool kan nie meer met die naam van die politikus en die voormalige eerste minister D.F. Malan, waarna die skool genoem is, assosieer nie.

Malan word onder meer gekenmerk aan sy rol in die stigting van apartheid.

Die beheerliggaam het toe met ’n proses begin om die naam te verander en het onder andere die hulp van dr. Frederick Marais ingeroep om daarmee te help.

’n Ander drukgroep, Trots DF Malan, het kort voor lank ontstaan en gesê die besluitnemingsproses is nie deursigtig hanteer nie en almal het nie die geleentheid gehad om ‘n inset te lewer nie.

In hierdie tydperk het die skool die leerders, ouers, alumni en onderwysers kans gegee om oor opsies vir ’n naam te besluit.

Die grootste meerderheid het die naam DF Akademie gekies.

Die drukgroep het daarna die hof daaroor genader en aangevoer die proses was nie ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Paja) deursigtig nie.

Betoë in die saak is in Februarie gelewer.

Henney het in sy uitspraak, wat elektronies gelewer is, beslis die beheerliggaam het reg opgetree deur vir Marais, ’n onafhanklike fasiliteerder, aan te stel. Dit was dus nie irrasioneel of onredelik om sy voorstelle te volg nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article