Groot opgewondenheid het vandeesweek by die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad geheers oor die halfeindstryd van die rugbywêreldbeker wedstryd waarin oud-Brakkie, Cheslin Kolbe, gaan uitdraf.
Die skool het die Springbokke en Kolbe in ’n hartstogtelike video sterkte toegewens vir die wedstryd teen Engeland die komende naweek.
Honderde leerders het luidrugtig op die video, wat Vrydagoggend (20 Oktober) op die skool se Facebookblad gedeel is, vir Kolbe lof toegesing.
Petrie Stofberg, die skool se rugby-afrigter, het Kolbe onthou as die speler wat in ’n oogwink die gang van menige wedstryde vir die skool kon swaai.
“Jou spoed, vaardighede en die ywerige wil om te presteer sal ons altyd bybly. Ons is trots op Cheslin se besondere bydrae tot ons skool se rugbykultuur en vir die puik rolmodel wat hy vir ons leerders is,” het Stofberg gesê.
Skoolhoof, Jannie Muller, het gesê Kolbe verpersoonlik alles wat die skool wil hê hul leerders moet uitleef. “Sy durf, deursettingsvermoë en lojaliteit maak van hom ‘n puik rolmodel. Sy toweekuns op die veld is iets waarna ons elke wedstryd uitsien. Sterkte vir die laaste twee wedstryde. Maak die Brakkies en Suid-Afrika trots.”
*Die halfeindstryd tussen die Springbokke en Frankryk vind Saterdag 21 Oktober om 21:00 (Suid-Afrikaanse tyd) plaas.



