Hier is ons nou, met die Springbokke wat bekend staan as die viermalige wêreldkampioen.
Dit is nou reeds ’n paar dae nadat die Springbokke die All Blacks in ’n senutergende eindstryd in Parys geklop het.
Die Springbokke het slegs die tweede span in die geskiedenis geword wat hul beker verdedig, nadat hulle ook in 2019 koning gekraai het. Dit is maar net een van die vele stories van hierdie toernooi.
Ek gaan probeer om soveel as moontlik van die stories hier weer te gee.
Eerstens, Damian Willemse is ’n dubbele wêreldkampioen op die ouderdom van 25. As hy fiks en gesond bly, het hy ten minste nog twee wêreldbeker-toernooie in hom hoor.
Canan Moodie is ’n wêreldkampioen op slegs 20. Hy kan nog ’n grote word, as hy reg bestuur word.
RG Snyman was ’n ster in die vorige wêreldbeker en terwyl hy op die vlerke van daardie glorie moes ry, was die vier jaar in die opbou na vanjaar se toernooi alles behalwe maanskyn en rose.
Hy was telkemale beseer en toe hy uiteindelik weer kon speel, het hy beserings in ’n fratsongeluk opgedoen. As deel van die gevreesde “Bomb Squad” het hy gehelp om baie wedstryde in die Springbokke se guns te swaai.
Siya Kolisi moes ’n ernstige kniebesering oorkom om by die toernooi te wees.
Malcom Marx is beseer. Handré Pollard is aanvanklik weggelaat, maar toe Marx beseer is, het hy teruggekom en was hy uiteindelik baie waardevol. Daar is baie sulke stories.
Maar een van die beste stories is die een van Deon Fourie, wat jare gelede Suid-Afrika verlaat het om in Frankryk groot geld te gaan verdien. Met sy vertrek was hy nie naby aan Springbokklere nie.
So ’n paar jaar gelede kom hy terug om vir die Stormers te kom speel en om sy loopbaan af te sluit waar hy begin het. Saterdagaand het hy meer as 70 minute van ’n eindstryd teen die Bokke se grootste teenstanders gespeel. Ek dink nie as jy hom so ’n paar jaar gelede gesê het hy gaan op 37 ’n wêreldkampioen word, sou hy jou geglo het nie.
As ’n span het die Bokke alle struikelblokke in hul weg oorkom. Hulle het teen elke span in die top-ses in die wêreld gespeel en ten spyte van ’n glips teen Ierland het hulle almal geklop.
Die skeidsregters was teen hulle en die aggressiewe Franse skare. Die media wou Rassie Erasmus uitmekaar skeur en die Engelse wou Bongi Mbonambi as rassis brandmerk. Die Bokke se taktiek en planne is gekritiseer, maar steeds het hulle alles wat na hulle gegooi is, oorwin.
Vir die volgende vier jaar sal ander spanne probeer om die Bokke te ontleed in ’n poging om hulle uiteindelik te klop. Hulle sal in die media verneder word en Wêreldrugby sal alles in sy vermoë doen om die bult na die volgende toernooi so styl as moontlik te maak.
Hulle het reeds begin deur nie een van die belangrikste toekennings aan Suid-Afrika te gee nie. Nie afrigter van die jaar of span of speler van die jaar nie.
Maar as Suid-Afrikaners vat ons dit op die ken en sê: Hou jul toekennings, want vir die volgende vier jaar is ons, soos vier keer tevore, die wêreldkampioen en daaraan kan julle niks doen nie.
Bokke bo, Bokke bo!





