’n Veelsydige jong sportman van Blue Downs sê hy droom om eendag professioneel aan sport deel te neem.
Manuel Smith, ’n graad 11-leerder aan die Hoërskool Tusgany Glen, blink uit in krieket: as speler, skeidsregter en afrigter. “Ek is die eerste keer blootgestel aan die sport toe ek nog op laerskool was. Een van my onderwysers by die Laerskool Tuscany Glen, na wie ek baie opgekyk het, het my blootgestel aan die sport. Ek het vir die skool begin speel en hy was die eerste afrigter wat ek geken het. Hy het altyd in my en die span geglo en ons op ‘n rustige manier afgerig en wou altyd hê ons moet dit geniet. Tot vandag toe sal ek nooit die lesse wat hy my geleer het, vergeet nie,” sê Manuel.
Sy talent het die eerste keer werklik na vore gekom toe hy aan ’n toernooi teen naburige skole deelgeneem het. “Die toernooi is deur die Blue Downs-krieketklub aangebied en hulle het ’n o.13-span uit alle spanne gekies. Ek het die span gehaal en ons het aan ’n toernooi in Worcester deelgeneem. Die gogga het behoorlik gebyt en ek het ná afloop van die toernooi permanent by die klub aangesluit,” sê hy
In 2022 is hy aan binnenshuise krieket bekendgestel en het hy vanjaar die Westelike Provinsie (WP) se o.18-span gehaal. Hierna is hy vir die nasionale o.18-uitnodigingspan gekies.
“Ek werk steeds baie hard en ek gaan weer volgende jaar die WP-span verteenwoordig. Ek sal graag eendag vir die Proteas wil uitdraf. Dit was nog altyd ’n groot droom van my. Dit is vir my baie aanloklik om die sport te beoefen waarvoor ek lief is en dit op ’n professionele basis te doen. Dit is alles natuurlik in God se hande en sy plan vir my lewe is klaar uitgelê.
“Ek is ook ’n gekwalifiseerde vlak 2-skeidsregter en ek werk in my vrye tyd saam met die Westelike Provinsie-skeidsregtersvereniging.
“Ek vind dit baie bevredigend om te leer en te ontwikkel in alle aspekte van die spel. Dit is vir my baie beter as om net die spel te speel,” sê hy.
Sy lewe bestaan ook nie net uit sport uit nie, sê Manuel.
“Ek probeer om my lewe te balanseer en ek gee dus ewe veel aandag aan my akademie as wat ek aan my sport gee. Ek glo nie dat ’n mens net op een aspek moet fokus nie, maar dat ons as mens uit verskeie fasette bestaan. Ek besef ook dat krieket, soos alle ander sport, ’n persoon net toelaat (fisies) om tot op ’n sekere ouderdom te speel. My plan is dus om ná skool onderwys te studeer, want ek wil graag vir jong mense dieselfde geleenthede gee wat ek gekry het en steeds kry.
“Onderwys sal my ook die geleentheid gee om nie net sportsmense te kweek nie, maar ook volronde burgers wat bydra om hierdie land ’n beter plek te maak. Ek sal dus my afrigting uitleef as onderwyser ná my professionele loopbaan,” sê hy.
Manuel se ma, Francis, sê as hy besluit om ’n ding aan te pak, maak hy daarvan ’n sukses.





