Verlede Dinsdag het die kranse behoorlik antwoord gegee toe die trotse oudleerder van die Hoërskool Brackenfell, Cheslin Kolbe, sy alma mater met ’n besoek gaan verras het.
Die Brakkies het glad nie geweet van die besoek nie. Jannie Muller, skoolhoof, het almal laat glo hulle oefen vir ’n bomdreigement. Vir niemand het dit sin gemaak waarom almal – ná die ontruiming – op die pawiljoen moes gaan sit nie.
Toe Cheslin sy verskyning maak, het die Brakkies hom uit volle bors begroet met sy liedjie “Die Cheslin-bom”.
Die opwinding was tasbaar. In een stadium is gevrees dat die Brakkies hom gaan bestorm, maar hulle het baie selfdissipline aan die dag gelê deur op die pawiljoen te bly totdat Muller gesê het hulle kan in klein groepies foto’s saam met hom neem.
“Die pragtige, nederige mens wat hy is, het voorwaar sy aanhangers behoorlik op hol gehad. Van ons leerders – en personeel – moes hulself behoorlik in toom hou om nie dalk flou te raak van al die opwinding nie,” sê Muller.
“Cheslin het ’n pragtige, inspirerende toespraak vir ons kinders gelewer. Hy is so ’n ongelooflike rolmodel vir ons jongmense. Hy verteenwoordig presies waarvoor die Hoërskool Brackenfell se waardes staan. Ons kan nie méér trots op hom wees nie.”
Die skool het Cheslin vereer deur die eerstespan se aantrekkamer na hom te vernoem.
’n Pragtige goue plaatjie is opgerig met die woorde: “Cheslin Kolbe – Eerste XV-kleedkamer.”
“Dit was vir hom ’n ongelooflik trotse oomblik – en ook vir Brakkieland. Dankie, Cheslin, dat jy ten spyte van al die roem jou voete nog steeds plat op die aarde hou. Dat jy altyd terugkom na jou skool en gemeenskap en altyd die skool en gemeenskap erkenning gee vir hul aandeel aan jou sukses. Ons harte swel van grootse trots by die aanhoor van jou naam. Jy maak ons trots, Cheslin.”




